Dis mos nie rugby nie, al is die skeidsregter verkeerd

Dit gebeur nie aldag dat ʼn skeidsregter se geduld opraak en hy dan ʼn rugbywedstryd beëindig nie.

Ons praat nou nie van die gebruiklike  “ref, maak oop jou oë,” nie, maar wanneer die kritiek te persoonlik raak en die skel- en vloekwoorde neerreën.

Maar ʼn Walliese skeidsregter het volgens Wales on Line  die afgelope naweek genoeg gehad van ʼn beterweterige en ouer ondersteuner wat hom aanhoudend gekritiseer het in die kragmeting tussen Caerleon, wat in die eerste liga speel,  en Penallta.

Caerleon was met 10-7 voor  toe die skeidsregter halt geroep en die toeskouer berispe het.

Hy is versoek om nie meer langs die veld te staan nie en het ʼn paar meter weg beweeg.

Maar die vlaag kritiek het aangehou en die skeidsregter het toe die eindfluitjie vroeg geblaas.

Die Walliese Rugbyunie sal die saak nou ondersoek.

♦  ʼn Hele paar wedstryde is al beëindig nadat groepgevegte tussen die spanne uitgebreek en die skeidsregter dit nie onder beheer kon kry nie.

Hier is egter ʼn voorbeeld van skeidsregtergesag: In 1986, toe die Nieu-Seelandse Kavaliers op Kingspark teen Natal gespeel het (die wedstryd is nie op televisie uitgesaai nie) het die vonke vroeg-vroeg gespat en het al 30 spelers mekaar gepak. Die skeidsregter, Steve Strydom, het sy fluitjie ʼn paar keer hard geblaas, maar dit het nie gehelp nie.

Hy het bloot eenkant toe beweeg, sy hande gevou en gewag totdat die humeure ná ʼn paar minute uitgewoed het.

Nadat die gemoedere gekalmeer het, het Strydom gevra: “Is julle nou klaar,” en voortgegaan.

♦  Daar was voorvalle waar ʼn wedstryd nie kon voortgaan nie nadat ʼn helikopter op die veld geland het en daar geen ander veld beskikbaar was; en jare gelede in ʼn klein dorpie het die (enigste) bal pap geword.

In ʼn ander wedstryd is die enigste bal  oor die stadion-muur geskop, ʼn ondersteuner het dit in die straat opgetel en daarmee laat spaander.

Velde het oorstroom en was onspeelbaar,  dink maar aan 1995 se halfeindstryd in die Wêreldbekertoernooi tussen die Springbokke en die Franse in Durban toe Kingspark in ʼn dam omskep is en die wedstryd byna afgelas is. Wedstryde is ook gestaak oor weerlig, hael en swak lig.

Daar was voorvalle waar die speeltoestande onaanvaarbaar was, soos ʼn veld vol duwweltjies, klippe en sonder gras. Wat van velde wat toe was onder die ys en sneeu?

En wat van ʼn “skoon” wedstryd op die veld in Hampshire wat nie kon voortgaan nie omdat die ondersteuners mekaar katswink geslaan het?

En dan is daar die geval in 1981 toe die Springbokke in groot geheimhouding teen die Amerikaners in Albany gespeel het om betogings en moontlike geweld  te voorkom.

Toe die Bokke by die poloveld aankom, was daar nie eens pale nie – en ʼn veld vol perdemis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.