Dis mos nou wat die Supersportreeks nodig het

Ruwellyn Isbell – vier drieë. (Foto: Hennie Homan/Pumas)

Dis mos nou presies wat die Superportreeks nodig het om die belangstelling gaande te maak – ʼn klompie naelbytstryde soos min.

In Kathu moes die Griekwas uithaal om die Griffons met 38-37 te klop (rustyd 21-20); in Bloemfontein moes die Vrystaat-vyftiental ʼn sterk terugvegpoging van die Sharks-vyftiental afslaan om met 12-10 te wen (rustyd 12-0); en in Montagu het Boland klippe gekou om die Oostelike Provinsie met 40-37 te troef (rustyd 26-20).

Selfs die Blou Bulle-vyftiental se Oudtshoornse oorwinning van 27-20 (rustyd 15-10) was ʼn verloorbonuspunt vir die Goue Leeus-vyftiental werd.

Die Griffons (wat lank met 32-21 voorgeloop het) het jou werklikwaar sewe drieë teen Griekwas se vyf gedruk, maar die Noord-Vrystaters se stelskopwerk het hulle klaaglik in die steek gelaat.

Die OP het kort voor die einde nog met 37-26 voorgeloop. Sy losskakel, Ruben de Vos, het 17 punte met vier doelskoppe en drie strafdoele op die telbord geplaas.

Waarom kan ʼn mens dit nie elke week beleef nie? Het die spelers dalk nie genoeg erns met die reeks om week na week vinger te trek nie?

Ja, daar was brak kolle – die Pumas het die Valke in Nelspruit met 54-7 verniel (rustyd 19-7), en die Westelike Provinsie die Suidwestelike Provinsie in Oudtshoorn met 50-3 – maar ʼn mens wil vertrou dat die spanne vorentoe minder wisselvallig sal vertoon.

Dit kan die status van die reeks net goed doen.

Ruwellyn Isbell van die Pumas het vier drieë gedruk en die Laevelders se losskakel, Chris Smith, het 17 punte met ʼn drie en ses doelskoppe bygedra.

Die WP se Joshua Stander het 15 punte met ʼn drie en vyf doelskoppe aangeteken.

Die puntemakers –

Griekwas 38 (21) – Drieë: AJ Coertzen, Kyle Steyn (2), Christopher Bosch, Jonathan Janse van Rensburg. Doelskoppe: Pieter-Steyn de Wet (3), André Swarts (2). Strafdoel: André Swarts.

Griffons 37 (20) – Drieë: Cody Basson (2), Shirwin Cupido, Neil Claassen, Rodney Damons (2), Mosoeu Maruping. Doelskop: Jaun Kotzé.

Vrystaat 12 (12) – Drieë: Reinach Venter, Tertius Kruger. Doelskop: Ernst Stapelberg.

Sharks 10 (0) – Drie: Tera Mtembu. Doelskop: Danrich Visagie. Strafdoel: Danrich Visagie.

Boland 40 (26) – Drieë: Rinus Bothma, Valentino Wellman (2), Charles Mayeza, Rayno Benjamin, Kenan Cronjé. Doelskoppe: Elgar Watts (4), Adriaan Carelse.

OP 37 (20) – Drieë: Johan van Wyk, Xander Vos, Zingisa April, Henry Brown. Doelskoppe: Ruben de Vos (4). Strafdoele: Ruben de Vos (3)

Blou Bulle 27 (15) – Drieë: Boom Prinsloo, Jamba Ulengo, Johan Grobbelaar, Duncan Matthews. Doelskoppe: Earll Douwrie, Francois Brummer. Strafdoel: Earll Douwrie.

Goue Leeus 20 (10) – Drieë: Vincent Tshituka, Siya Masuku. Doelskoppe: Jeanluc Cilliers, Siya Masuku. Strafdoele: Jeanluc Cilliers (2).

Pumas 54 (19) – Drieë: Marko Janse van Rensburg, Chris Smith, Ruwellyn Isbell (4), Hennie Skorbinski, JP Lewis. Doelskoppe: Chris Smith (6), Justin van Staden.

Valke 7 (7) – Drie: Anrich Richter. Doelskop: Andrew van Wyk.

SWD 3 (3) – Strafdoel: Leighton Eksteen.

WP 50 (15) – Driee: Craig Barry (2), Duncan Saal, Jaco Coetzee, Justin Philips, Joshua Stander, Steff de Wit, Brendon Esterhuizen. Doelskoppe: Joshua Stander (5).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.