Dis mos om `n Sanzar-baas te laat verstik

sunwolvesDie Sanzar-rugbybase moet seker in hul graanvlokkies verstik wanneer hulle in die oggende die nuusblaaie oopmaak en die webwerwe lees.

Dié keer is dit nie of die Southern Kings genoeg spelers van gehalte kan bymekaar skraap, of die spelers se salarisse betaal is en of hulle hul man sal kan staan wanneer die reeks oor sowat ses weke afskop nie, maar gaan dit oor die voorbereiding van die Japanse span, die Sunwolves.

Volgens `n berig in die Japan Times, het die Sunwolves se Nieu-Seelandse afrigter, Mark Hammett, `n volle lys van 34 spelers, wat tien spelers insluit wat in die Wêreldbekertoernooi gespeel het, maar daar is meer vrae as antwoorde.

Die Sunwolves het steeds nie `n permanente oefenbasis nie en maak gebruik van drie klubs in Tokio om te oefen. Daar heers kommer oor die speeloppervlak van die Prins Chichibu-veld en volgens die berig het Hammett nog nie sy ondersteuningspan aangewys nie.

Die Sunwolves begin hul aanslag op 27 Februarie teen die Lions en as `n mens tussen die lyne lees, is die Japanners, wat die Superreeks glo amateuragtig benader, soos skape wat in `n ry staan om na die slagpale gelei te word.

`n Super-franchise word nie oornag geskep nie en dit neem jare lank om te vestig en te bou. Dalk word ek verkeerd bewys, maar as ons die Western Force as maatstaf gebruik, voorsien ek groot probleme vir die Sunwolves (en die Kings).

Die eerste voelers om `n vierde Australiese span Superrugby te laat speel, is reeds in die vroeë 2000’s uitgesteek. Die bod het die steun van die Wes-Australiese regering gehad en toe die jawoord in 2004 gegee is, het die stukkies van die legkaart reeds inmekaar gepas.

Altesame 16 000 plaaslike ondersteuners het hul gewig by die span ingegooi en 400 maatskappye het belangstelling getoon. Die Nieu-Seelandse afrigter John Mitchell is aangewys en maande lank is die span geslyp voordat hy in 2006 sy buiging gemaak het.

Die eerste paar seisoene het glad verloop. Die Force het in 2006 een wedstryd gewen en een keer gelykop gespeel, maar goeie rekenskap van homself gegee. In 2007 het hy sewende geëindig (ses oorwinnigs) en in 2008 agtste (sewe oorwinnings) en 2009 weer agtste (ses oorwinnings).

Sedert Mitchell sy brûe daar verbrand het, het die Force maar eintlik, net die getalle volgemaak. In 10 seioene kon hy net 48 van sy 145 wedstryde wen en is hy 90 keer geklop terwyl sewe wedstryde gelykop geëindig het.

Daar lê dus baie harde werk vir die Sunwolves (en die Southern Kings) voor!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

moenie vergeet nie – in 2015 het ons gelag oor die arme Japanese teen wie ons in die Wereldbeker moes speel……… Die scoreboard vertel die storie

Nico ·

Wat was wedstryd knoeiery se invloed op daardie wedstryd en nou kan .n mens sien wat is Mitchell se invloed op ‘n span.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.