Dis mos sommer lekker geld mors, of is dit nie?

Allister Coetzee (Foto: herald.ie)

Die besluite van die Springbok-afrigtingspan laat jou soms diep kopkrap, of hou hulle ons (en die All Blacks van alle spanne), maar net aan die raai?

Wat anders kan ʼn mens van die besluite sê om die Cheetahs se Bok-vleuel Raymond Rhule, ná net twee dae se Bok-voorbereidings in Kaapstad vir Saterdag se toets teen die All Blacks op Nuweland, weer huis toe te stuur om saam met die Cheetahs voor te berei vir Vrydagaand se kragmeting in die Pro14-reeks teen die Glasgow Warriors in Bloemfontein?

Ook dat die Sharks se loskopstut Thomas du Toit (hy moes in elk geval reeds lankal by die Bokke gewees het), nou na die Bokkamp genooi word?

Rhule is ná die verloortoets van 57-0 teen die All Blacks in Albany (waar hy nege duikslae verbrou het) teruggestuur Bloemfontein toe. Hy het verlede Vrydag in Bloemfontein teen die Walliese Ospreys gespeel en is verrassend  gevra om hom weer Sondag by die Bokke aan te meld.

Maar ná twee oefeninge is hy weer op pad Bloemfontein toe. Tensy daar ʼn rede is, maak dit mos nie sin nie – want wat kan daar in twee oefeninge bereik word, hy is mos beslis nie meer die uitsoekvleuel nie.

Hy was tog maande lank saam met die Bokke, by twee oefenkampe, die toetsreeks in Junie teen die Franse en vir die Rugbykampioenskap, waar daar aan sy vaardighede geskaaf kon word.

♦  Die loskopstut Steven Kitshoff is Dinsdag deur die Bok-bestuurspan aan die media beskikbaar gestel en dis dalk ʼn aanduiding dat hy Saterdag teen die All Blacks in die beginspan sal wees met Beast Mtawarira op die bank. Of was dit nie net ʼn weerligafleier nie?

Mtawarira spog reeds met 95 toetse. As hy strykdeur speel, sal hy sy honderdtal aan die einde van die jaar teen Wallis bereik om hom by Victor Matfield (127 toetse), Bryan Habana (124), John Smit (111), Jean de Villiers (109) en Percy Montgomery (102) aan te sluit.

Maar is daar kommer oor een van die Bok-stutte se fiksheid? Waarom is daar nou loskopstutte (Mtawarira, Kitshoff en Du Toit) en drie vaskoppe (Ruan Dreyer, Trevor Nyakane en Wilco Louw ) saam met die Bokke?

Hulle sê dis ʼn voorsorgmaatreël.

Vir wie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eric ·

Kom neer op geen bestuurs vermoe van sa rugby kortweg die een weet nie wat ander een doen nie as almal so voel dink net hoe moet spelers in groep voel

rollie ·

Klink vir my heel logies. Die ou is steeds in die Bok-groep so hulle berei voor vir die komende toets. Gaan deur al die drills en die bestuurspan besluit dan na die twee dae se voorbereiding welke spelers beskikbaar sal wees vir die toets en welke span hulle wil speel. As die speler glad nie by die voorbereiding was nie en hy moet later in die week ingesluit word a.g.v ‘n besering /onttrekking of wat ookal van ‘n ander speler, gaan dit die span meer ontwrig.

Dolf ·

Die All Blacks gaan met ten minste 20 punte die bokke afslag

Willie ·

Ek dink meer as dit Dolf… Ons moet van die klein hanswors onslae raak…. Akkerman was die beste persoon om die Bokke af te rug…

rollie ·

Hierdie groep spelers is gemiddeld, niks spesiaal nie. Geen afrigting sal hulle tot by die AB’s se vlak kan bring nie. Die spelers het nie die vermoë nie.

Ouma ·

Ag ek hou net styf duime vas vir die bokke die naweek! Nie dat ek ‘n oorwinning verwag nie, maar ek hoop net daar word nie weer “mince meat” van hulle gemaak nie. Dan hoef my man nie so baie “Taljaans” te praat terwyl hulle speel nie.

Rianto ·

Solank Rhule nie speel nie… vlieg hom enige plek waar jy wil solank dit net in die teenoorgestelde rigting is as wat die Bokspan vlieg…

cdv ·

Ek gaan nie eers kyk nie. Het verlede Saterdag halftyd na ander kanaal oorgeskakel en Big Bang Theory se “re runs” baie genotvoller gevind.Kyk die Saterdag sommer van 17h00 al Big Bang.

Pierrè ·

Julle verstaan nie hoe geniet ek ‘n Saterdagmiddag met my eie belange sedert ek skottel afgegradeer het nie, kan nie SS1 meer kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.