Dis ʼn kuns om te kan skepskop

Hansie Brewis druk sy beroemde drie teen die 1949-All Blacks op Ellispark, toe hy gemaak het of hy wou skepskop en toe deurgenael het.

Wat word die langste in rugby onthou?

Skepdoele.

Hoeveel van ons onthou een van Bryan Habana se 67 toetsdrieë?

Ja, dalk as ons hoogtepunte daarvan op televisie sien, maar wie sal ooit Joel Stransky se skepdoel in bykomende speeltyd van die Wêreldbeker-eindstryd in 1995 kan vergeet wat die All Blacks geknak het?

Of hoe Jannie de Beer vyf skepdoele in 1999 teen Engeland in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi in Parys oorgeklits het om die Engelse na hul koningin in Londen te laat verlang?

Wat van Naas Botha, Gerald Bosch, Derick Hougaard, en hoe pa of oupa liries geraak het wanneer hulle oor Hannes (Kiewiet) Brewis se skepdoele gesels het?

Terloops, Brewis het op sy troudag in 1946 twee skepdoele (een met elke voet) vir Noord-Transvaal in die Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie deurgejaag om sy span die eerste keer die Curriebeker te laat wen.

Brewis het in 1949 in die tweede toets teen die All Blacks op Ellispark een van die juweeldrieë van Springbokrugby gedruk. Hy het gemaak of hy wou skepskop en die All Blacks het vir ʼn oomblik soos ʼn destydse langspeelplaat vasgehaak. Voordat hulle tot verhaal gekom het, het Brewis sowat 30 meter vir sy drie tussen verskeie All Blacks deurgenael om die Bokke te laat wen.

Pure goud!

En hoe Gerhard Viviers Frik du Preez se lang skepdoel in 1969 teen die Westelike Provinsie beskryf het: “Dis ʼn hoë skop, dis ʼn mooi skop, dis ʼn pragtige skop, dis ʼn netjiese skop en hy’s oor.”

Maar skepdoele kan ook gewraak wees, soos die Waratahs-stut Matt Dunning se skepdoel in 2003 en Juan Martin Hernandez se skepdoel in Saterdagaand se toets tussen Engeland en Argentinië in San Juan.

Dunning, ʼn balvaardige stut wat eintlik nie kon skrum nie, se spanmaats was briesend toe hy sy talente in die Super15-reeks in ʼn wedstryd teen die Chiefs uitgestal het.  Die Waratahs moes vier drieë vir ʼn bonuspunt druk om vir die halfeindronde te kwalifiseer. Hulle was goed op pad daarheen en toe hulle in die 67ste minuut ʼn strafskop kry, was dit ʼn gegewe dat hulle hoek toe sou skop om met ʼn maalbeweging hul derde drie te druk.

Maar die skeidsregter het voordeel toegelaat en toe besluit Dunning om sy naam in die annale met ʼn skepdoel te verewig. Die bal het tussen die pale deurgeseil en Dunning het sy vuiste gebal, net om deur sy ontstoke spanmaats geroskam te word. Die Waratahs kon eindelik net drie drieë druk en Dunning moes pa staan vir die “neerlaag”.

Dunning se verweer was dat hy nie gedink het die bal sou deur die pale seil nie.

Hernandez het Saterdagaand die Poemas laat voorloop toe hy soortgelyk ʼn skepdoel deurgejaag het kort voor die einde van die toets teen ʼn onervare Engelse span.

Ek is seker dat die Poemas eerder die strafskop sou wou gebruik het om met ʼn rolmaalbeweging die Engelse op hul knieë te dwing. Die horlosie sou ook met die doelskop afgetik het en Denny Solomona (Engeland se plaasvervanger-agterspeler) sou straks kort daarna nie sy span se wendrie kon druk nie.

Maar nou ja, held vir ʼn paar sekondes, boef kort daarna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cjan ·

Jannie de Beer se 5 strafdoele is seersekerlik verkeerd dit moet 5 skepdoele gewees het mnr Piet Kruger.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.