Dis nie ʼn rugbyjaar wat lank onthou sal word

Allister Coetzee – ʼn jaar om te wil vergeet. (Foto: Twitter)

Daar sal diep, diep, diep gedelf moet word om Suid-Afrikaanse rugby uit die maalgat van middelmatigheid te kry.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) is ʼn finansiële knyptang, bonde is bankrot of sukkel om kop bo water te hou, die vertonings van byna al die nasionale spanne (die Springboksewesspan uitgesluit) laat die ondersteuners bloos en daar is nie baie lig op die horison nie.

Dis hoekom daar nie wonderwerke van Rassie Erasmus in sy hoedanigheid as direkteur van rugby verwag moet word nie. Hy is in beheer van al agt nasionale spanne en daar sal ʼn kuur ontdek moet word om die bloeding op byna alle vlakke te keer.

Hoekom? Kom ons neem die vertonings van die belangrikste nasionale en Superrugbyspanne (Blitsbokke uitgsluit, want hulle laat die fakkel brand), in oënskou.

Springbokspan: Onder die huidige afrigter, Allister Coetzee, het die Bokke die afgelope twee jaar ʼn wenpersentasie van net 42,3 persent behaal. Verlede jaar kon die Bokke net vier van 12 toetse wen en vanjaar darem sewe uit 13, wat vier skaflike oorwinnings oor ʼn sukkelende Franse span ingesluit het. Ironies genoeg ¬ het die Franse hul afrigter, Guy Noves, nou gepos en met Jacques Brunel vervang.

Die Springbokke is sesde op die jongste wêreldranglys, kon die Rugbykampioenskap (en sy voorloper, die Drienasies) nog net drie keer in 22 jaar wen en niemand weet of Coetzee die deur gewys gaan word nie, want daar word tjoepstil gebly of daar ʼn prestasieklousule in sy kontrak is. Die Bokke het die afgelope twee jaar teen Nieu-Seeland (vier keer), Australië, Wallis (twee keer), Engeland, Ierland (twee keer), Italië en Argentinië verloor. Is dit nie genoeg om enige ondersteuner sooibrand te gee nie?

Springbok-vrouespan: Dertiende op die wêreldranglys met Spanje en Samoa se vroue-spanne voor die Bok-vroue. Boonop blaas Nederland, ja Nederland, se vroue-span in hul nekke.

Junior Springbokke: Suid-Afrika se o.20-span kon in tien probeerslae die Junior Kampioenskap nog net een keer wen toe hy Engeland in 2014 met 21-20 geklop het. Engeland het dit drie keer vermag en Nieu-Seeland ses keer. Die Junior Springbokke het die bronsmedalje vanjaar gewen, maar met ʼn magdom talent, is dit ʼn rede om daaroor te kraai?

Superrugby: Die Lions is vanjaar die tweede opeenvolgende jaar in die eindstryd verslaan; twee Suid-Afrikaanse spanne, die Cheetahs en Southern Kings, se mat is onder hulle uitgepluk en hulle ding nou in die Pro14-reeks in Europa mee. Die Cheetahs vaar goed en is ná ses oorwinnings (in tien wedstryde) derde in Groep A. Die Kings is segeleoos ná tien wedstryde en laaste in Groep B.

Die Curriebeker-reeks word al hoe meer verwater, toeskouergetalle kwyn, borge droog op, al hoe meer spelers en afrigters (soos Johan Ackermann en Johann van Graan) het groener weivelde oorsee gaan soek, en Suid-Afrika het die Wêreldbeker-bod vir 2023 verloor toe dit aan Frankryk toegeken is.

Dis hoekom daar ʼn kwaai hoofpyn op Suid-Afrikaa se rugbybase wag wanneer hulle op Nuwejaarsdag wakker skrik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Frans C ·

Die ondergang van Suid Afrikaanse rugby is Provinsialisme (eie belang).Baie ondersteuners is van mening dat solank hul span goed vaar in enige kompetisie,hetsy plaaslik of internasionaal,dan is Suid Afrikaanse rugby gesond.

Hierdie seining word ondersteun deur die koop ‘n span beleid.Ondersteuners is dan tevrede en kraak spanne wat nie goed vaar en hul ondersteuners dan af, as onbeholpe,swak ens, en dikwels is rugbykommentators ook sondebokke in die opsig.

Die skuif van bv Robert du Preez,losskakel vanaf WP (Curriebekerkampioen) na die Sharks
waar sy Pa afrig,mag dalk die Sharks tot voordeel strek,maar verbeter nie Suid Afrikaanse rugby nie,dit versterk net een span ten koste van ‘n ander.

Dat dit inderdaad ‘n dwaling is blyk uit die resultate wat behaal word.Wat nodig is is ‘n totale herstukturering van rugby wat aanpas by die eise van die tyd.Suid Afrikaanse rugby kan eenvoudig nie bekostig dat van die Suid Afrikaanse spanne,slaansakke plaaslik en internasionaal word nie.Om ‘n verswakte Kingsspan uit die Superreeks te skop en dan ‘n slaansak te maak in ander kompetisie,beteken niks vir Suid Afrikaanse rugby en die moraal van die spelers nie.Hoekom is die span nie versterk met spelers wat dikwels net op die bank
van groot spanne sit?

Is daar iemand met genoeg durf om die probleem op te los en Suid Afrikaanse rugby ,kwota vry,in ere te herstel?

Veritas ·

Frans, toe provinsialisme, lees noord/suid, op sy felste was, was Springbokrugby op sy sterkste. Ek stem saam dat geld een van die redes is, waarom die kleiner bonde van hul topspelers geroof word maar in NZ gebeur dit ook en tog word die kwaliteit van rugby daar, nie negatief daarmee beïnvloed nie. Die administrasie van van SA rugby is verseker die hoofoorsaak van swak rugby en leë stadions.

Frans C ·

Beste Veritas
Kyk rugby van die jare 50 af.Het van die beste besoekende spanne en Provinsiale spanne in aksie gesien.’n Kenmerk van die spanne was die kontinuïteit van die spanne.
‘n Weglating van bv Frik du Preez uit Noord Transvaal se span het skokgolwe in rugbykringe
veroorsaak.
Die sukses van die Lions 2016 en 2017 was ook te danke aan die kontinuïteit van die span.
Toe daar aan die span getorring word verloor hul teen die Jaguares.Die feit dat Ackerman
en hul verdedigingsafrigter weg is, gaan die Lions mi vanjaar kwesbaar maak.

NZ se sukses lê daarin dat nasionale spanne ‘n lyn van opvolging in hul afrigters het,wat ook
kontinuïteit daar bewerkstellig.Daar word ook nie sommer getorring aan suksesvolle kombinasies nie en is hul rugby patroon dwarsoor NZ min of meer dieselfde.

Toe die Springbokke in 1956 NZ toe vertrek was die keuse van toerkaptein ‘n reuse verassing omdat die vernaamste aanspraakmakers in ‘n onderonsie betrokke was.Dit was gou duidelik dat Basie Viviers nie kon byhou met die jong en avontuurlustige spelers aan sy buitekant en dat die toe te veel op hul eie wou doen.

Die span kon toe nie die verwagte hoogtepunte bereik nie en het die reeks verloor.
Waar NZ se superrugspanne reeds bekend is,word daar plaaslik nog rondgeval en aangekoop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.