Dis nie goeie leesstof op ‘n leë maag nie

springbokDis daardie tyd van die jaar wat as komkommertyd  bekend staan wanneer toetsrugby op die agtergrond geskuif word en elke moontlike storie die webwerwe en nuusblaaie haal.

Dis wanneer daar voorraad opgeneem word,  die seisoen in oënskou geneem word en elke span se vertonings ontleed, en nogmaals ontleed, word.

The Guardian van Londen se vyf rugbyskrywers het hulle hoogte- en laagtepunte van die afgelope herfstoetse neergepen en dit was eintlik baie maklik. Die All Blacks was volgens drie van die vyf die beste span van die jaar.  Engeland was kort op hul hakke, tog het twee die Iere die jawoord gegee.

Ek meen die Iere se vertoningslys was die beste. Hulle was immers die enigste span wat vanjaar die All Blacks (in Chicago) kon klop en die Wallabies en die Bokke (in Junie) verslaan het. Die mite van oorheersing deur die Suid-Halfrond bestaan nie meer nie; die All Blacks kán geklop word; en die Wallabies, Bokke en Poemas was veevoer.

Die All Blacks het wel die wêreldrekord van 17 opeenvolgende oorwinnings tot 18 verbeter, maar is vanjaar se span werklik so goed? Hoeveel spelers sou die brekers van 1965 tot 70  se span gehaal het? Was daar ʼn Bryan Williams, Grahame Thorne, Sid Going, Colin Meads of Ian Kirkpatrick?

En wat van Richie McCaw, Jonah Lomu, Conrad Smith en Dan Carter?

Daar was groot eenstemmigheid by die vyftal joernaliste oor die swakste span en vertonings van die jaar … die Bokke.

Dit was nie goeie leesstof nie en kommentaar soos ‘ek het nie geglo die Bokke kan swakker as teen Italië vaar nie, toe kry hulle dit teen Wallis reg,’ en ‘die Bokke kon net aan hul truie uitgeken word,’ slaan jou  vierkant tussen die oë.

ʼn Mens besef opnuut hoe die Bokke se spel getaan het, hoe pateties hul vertonings in hul drie verloortoetse was (ook in gelykopstryd teen die onervare, onvoorbereide Barbarians).

Dit laat jou weer besef hoe belangrik die besluit van die rugbybase sal wees wanneer hulle volgende week oor Allister Coetzee se toekoms redekawel.

Verdien die man nog ʼn kans? Is hy werklik slagveld toe gestuur sonder die nodige ammunisie? Sou enige ander afrigter ook so swak gevaar het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henry ·

Die probleme begin heelbo – by die bestuur van Suid Afrikaanse rugby. Coetzee en die afrigting probleme is bloot ‘n gevolg van die wanfunksionele SARU bestuur.

Duidelik soos daglig dat die siele wat tans in beheer is nie vir die taak opgewasse is nie. Blyk duidelik uit die finansiële probleme, borge wat die pad vat, politieke dienstigheid, kwynende toeskouer-getalle, klein unies wat kunsmatig aan die lewe gehou word met geld wat beter aangewend moet word ens ens ens.

Die spreekwoordelike verrotte viskop verseker dat als ondertoe ook vrot is.

Soos voorheen sal hierdie teem ook in die rugbyafdeling van MM se snippermandjie beland, maar ek moes dit vir die hoeveelste keer en teen my eie beterwete herhaal…
:-)

callie ·

Daar was hele paar probleme wat bok rugby verswak het. Kwotas bly hoog op die lys maar niks kan vergelyk word met die span wat totaal onafgerig op die veld gedraf het nie. Geen game plan, geen vuur en trots, geen verdediging, geen duidelike skop plan, ag, daar was net niks. Dit is totaal n afrigter wat glad nie weet wat hy doen wat voor elke game vertel hoe goed was die oefening en na elke game spelers blameer. Joost het voor die toetse van die jaar getweet, borge is weg, die afrigter het geloop begin van die einde van die bokke . Warren Whiteley het gese HM staan of val by sy span, soveel passie het hy nog nie gesien. Nou is daar niks. ASB AC LOOP

Johan ·

As AC bly, wen politiek en Springbokke verloor. Die parlementere komitee se “insig” in Rugby was duidelik. Kruispad hierdie, elke Springbokondersteuner sal hier moet kies…

Nico ·

Ons koop net nie meer Toetskaartjies nie. Kyk hoe leeg was die lughawe met die terugkeer van die watse…….bokke.

Gerbrandt ·

Ja bly weg van die stadions af en boikot hulle, slaan hulle waar dit seer maak….hulle sakke!!

Anoniem ·

Gerbrandt, ek stem 100% saam met jou. Hoe leer stadions is hoe gouer gaan hulle besef die oorgrote meerderheid rugbyondersteuners is nie gediend met die huidige toedrag van sake nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.