Dis nie lekker statistiek om te lees nie

new_zealand_all_blacks[1]Dit is nou nie die nuus wat enige Suid-Afrikaanse rugbyondersteuner saam met sy graanvlokkies aan die ontbyttafel wil verorber nie, maar daar staan dit in swart op wit: die All Blacks vier hul tiende uit 12 jaar as die  wêreld se beste rugbyspan.

Die All Blacks is sedert 2009 eerste op Wêreldrugby (die ou Internasionale  Rugbyraad) se ranglys. Hulle is die afgelope 521 weke die beste span.

Dis hoekom Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap so belangrik gaan wees: Om jou teen die beste te meet, om te sien of jou spankeuse in die kol is, om jou spelpatroon in `n drukkoker te toets en om te sien of jou vaardigheidsvlakke hoog genoeg is om die Wêreldbeker te wen.

Dis eintlik verontrusbarend dat Nieu-Seeland net 520 klubs en 141 726 geregistreerde spelers het. Vergelyk dit met Suid-Afrikaanse statistiek: 1 526 klubs (288 net in die Boland!) en 651 146 spelers (121 663 volwasse, 204 119 op junior vlak en 355 364 heel juniors).

Ja, ja, ja, daar is nie kwotas en transformasie in Nieu-Seeland nie, die spanne, streke en klubs trek nie dwars nie, ma’s spoor hulle kinders steeds aan om van voetsoolvlak af rugby te speel en spanne vat houe op die ken as hulle verloor.

Die Nieu-Seelandse minister van sport sê ook nie “moer hulle” as hy die All Blacks voor `n toer sterkste toewens nie.

Wat dit nog swaarder maak om af te sluk, is dat die Nieu-Seelandse sewesspan die IRB se sewesreeks 12 uit 16 keer sedert 1999 gewen het; dat die o.20-span vyf keer in agt toernooie die kampioenspan was sedert die instelling van die Junior Wêreldkampioenskap in 2008 nadat hulle voor dít ook die toernooie vir o.21s en o.19s oorheers het; dat die Black Ferns, die Nieu-Seelandse vrouespan, sedert 1998 drie keer (elke vier jaar) wêreldkampioen was; en dat, sedert in instelling van die Super 12-reeks in 1996, Nieu-Seelandse spanne 11 uit 20 keer aan die wenkant was.

En wat doen ons rugbybase om die agterstand te probeer inhaal? Hulle oorweeg dit glo om die Curriebeker-reeks tot 18 spanne uit te brei, insluitende spanne van Namibië, Zimbabwe en Kenia.

Krag teen krag ? Se voet.

Ek voel jammer vir die kleiner unies, ek besef dat `n wortel voor hulle gehou moet word, maar om `n reeds afgewaterde reeks verder te verswak, is nie bevorderlik vir rugby nie.

En wat van die astronomiese koste van so `n reeks? Absa gaan volgens alle aanduidings sy borgskap aan die einde van die Curriebekerreeks beëindig. En dan? Watter nuwe adverteerder sal by so `n stelsel betrokke wil raak?

Die uitbreiding na al die spanne is al hoeveel keer in die verlede bespreek en getoets. As dit so suksesvol was, hoekom is `n uitgebreide reeks van 14 spanne (of meer in die verlede) telkens na `n seisoen of wat op die rak geplaas? Dis maar weer die geval van die stert met sy stemreg wat die hond met sy groter  rugbykrag rondswaai.

Dié stap gaan beslis nie help om die uittog van spelers buiteland toe te keer nie, want die spelerskontrakte hier sal straks nog kleiner raak – en die voorste spelers soek boonop taaier teenstand.

Die spelerspoel sal wel vergroot, maar tensy daar `n baie groot klemverskuiwing is hoe die spanne speel, afgerig word en nog bevoegde skeidsregters na  vore tree, kan dit na `n paar seisoene weer soos water van `n eend se rug afspoel en terugverander word na die soveelste nuwe Curriebekerstelsel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico K ·

Ek tel 13 uit 20 oorwinnings vir NZ spanne in die superrugby. En dan het ons nog nie gepraat van die 13 uit 19 oorwinnings in die drie nasies nie, (of wat hulle ook deesdae genoem word.) Ek is nie anti SA nie, maar niemand kan stry dat NZ die beste rugbyland is nie. Ons sal weer vir NZ wen, maar dit sal altyd minder wees as die verloor. En om elke keer die afrigter en al die spelers te wil afdank as ons verloor sal nie help nie. Ek kan nie die rede noem nie, maar die Fidjiane en Samoane wat vir NZ speel is beslis deel daarvan. En die minder geld beskikbaar in SA vir rugby. NZ verloor net nie soveel spelers aan Europa en Japan nie.

Henry ·

Jy kan nie die rede noem nie.
Het jy al van kwota’s gehoor???

Manny ·

Ons het net eèn probleem in Suid Afrika en dit die inmenging van politici in sport wst eintlik niks van sport af weet nie. Dit sluit alle sport in nie net rugby nie. Hulle praat van krag teen krag maar voor kwotas nie iets van die verlede is nie sal ons nooit weet of ons werklik die sterkste spanne in die veld het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.