Dis nie so maklik om af te rig nie

oefenDis baie maklik om ‘n probleem te identifiseer, maar dis nie so maklik om een behoorlik op te los nie.

Dis heel te verstane dat die ondersteuners van die Bulls in opstand is oor hul span se vertonings tot dusver in vanjaar se Superrugby-reeks. Ek sou baie bekommerd gewees het as die ondersteuners die twee nederlae teen die Stormers en Hurricanes gelate aanvaar het, maar hoe word dit reggestel?

Só kan dit nie aangaan nie, word daar om die braaivleisvuur gesê. Frans Ludeke moet as afrigter gepos moet word.

Dis maklik om dit op webtuistes en op die brieweblaaie in die koerante te sê. Dis maklik om SMSe te stuur en te eis dat Pierre Spies se kop as kaptein moet rol. Dis maklik vir oudspelers, joernaliste en ondersteuners om raad te gee.

Dit lyk dalk na twee ooglopende oplossings, maar is dit nie soos om die baba saam met die badwater uit te gooi nie?

Ek hoef geensins vir die Bulls te skerm nie, ek hoef nie pa te staan vir Johan Ackermann se Lions wat ook ná twee wedstryde segeloos is nie, ek hoef nie nagte wakker lê omdat die Cheetahs verlede jaar so swak gevaar het nie. Trouens, ek het ook al aan pelle ges dat ‘n breier gepos moet word. Dis menslik, jy glo dis jou reg, maar is dit die oplossing?

Die dae toe dr. Louis Luyt sy faksmasjien gebruik het om afrigters en sy uitvoerende hoofde af te dank, bestaan lankal nie meer nie.

Dit gaan miljoene der miljoene kos, want daar is kort- en

langtermynkontrakte ter sprake. Dit gaan ook nie net oor een persoon nie, maar oor ‘n hele ondersteuningspan en hulpafrigters. Dit gaan oor kontinuïteit, oor spandinamika.

‘n Nuwe afrigter sal uit sy huidige kontrak waar ook al gekoop moet word en die hulpafrigters en ondersteuningspan wat hy wil aanstel, sal ook nie vir kleingeld aanmeld nie.

Dít mag dalk in Frankryk en Engeland  gebeur waar klubs in private besit is. Die Siriese miljoenêr Moheb Altrad het Jake White juis in Januarie in die plek van die sukkelende Fabian Galthie aangestel. Nou moet hy albei se astronomiese  salarisse (en White se hulprigter Shaun Sowerby s’n) betaal en yslike hofsake dreig (R26,6 miljoen is glo wat die uitgesette Galthie eis).

En wat gebeur toe Saterdag? Daar verloor Jake se Montpellier teen Grenoble. Dit gaan maande vir White neem om behoorlik aan te pas, dit gaan maande en jare neem voordat hy al die spelers kan lok wat hy in sy visier het. Teen daardie tyd is hy straks weer vort.

En die groot vraag? Wie moet hier by ons aangestel word as iemand afgedank sou word? Jimmy Stonehouse? Hy sal nie nóú van sy kontrak in  Japan vrygestel kan word nie, en hy is ongetwyfeld nou vir ons te duur. Dit sal heelwat meer kos as wat ons afrigters hier verdien of die unies en franchises kan bekostig.

John Mitchell? Puik afrigter, maar ek sit my kop ‘n blok dat daar binne twee maande ‘n spelersopstand in Pretoria sal wees … só ook met Nick Mallett. In elk geval het Mitchell nou `n sakeonderneming in Natal.

Allister Coetzee is op pad Japan toe, Alan Solomons is by Edinburgh Rugby, John Plumtree is nou ‘n Hurricane, Laurie Mains het lankal afgetree, niemand wil Peter (Snorre) de Villiers aanstel nie, Brendan Venter wil net konsultant wees en Gary Gold het pas by die Sharks geteken. Wat van Dick Muir, John Dobson, Carlos Spencer, Orza Gongoloza, Phil Pretorius?

Ja, daar moet vernuwing kom, daar moet afgewyk word van die ingedrilde patroon wat jare lank so suksesvol was, spankeuses moet in die kol wees…

Maar gaan kyk maar hoe die spelers oefen. Op Loftus, in die Johannesburg-stadion, in Bloemfontein, op Kingspark en in Bellville. Hulle doen dinge op volle vaart, hulle slaan nie die bal aan nie, hulle neem nie swak besluite nie, hulle mis nie ‘n tekkel nie. Dag in en dag uit.

Wie wil dan Saterdae in die skoene van ‘n afrigter staan en hoor dat die stadion gaan leegloop as hulle nie wen nie?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.