Dis nie maklik om Hane se vere te pluk nie

ffrlogoDie Springbokke kan hulle aanstaande jaar maar regmaak vir ʼn strawwe reeks van drie toetse teen die besoekende Franse, mits die Hane in Junie met die regte voet uit die bed opstaan.

Daar is min spanne wat  die bloeddruk, letterlik en figuurlik, kan opjaag soos die Hane.

Daar is ʼn ou uitdrukking in rugby dat die enigste voorspelbaarheid van ʼn Franse span sy onvoorspelbaarheid is. Wanneer die span die dag kook, is hy vuurwarm, maar wanneer hy die dag koud is, blaas hy yskoud.

Groot, sterk, vurige en balvaardige voorspelers, dink maar terug aan Benoit Dauga, die Spanghero-broers, Olivier Roumat, Laurent Cabannes, Jean-Pierre Rives, Abdelatif Benazzi.

En vlugvoetige agterspelers soos Philipe Sella, Jo Maso, Serge Blanco, Jean-Luc Sardourny.

Die eerste toets teen die Hane is reeds in 1913 in Bordeaux gespeel, toe die Bokke met 38-5 gewen het. Die Bokke het eers weer in 1952 teen die Hane gespeel, en met 25-3 gewen.

In 1958 het die Hane die Bokke in ʼn reeks van twee toetse in Suid-Afrika  geskok. Die eerste toets op Nuweland het met 3-elk gelykop geëindig en die Hane het die tweede op Ellispark met 9-5 gewen.

Die Hane het die Bokke in 1964 weer geskok deur die enigste toets in die PAM Brinkstadion in Springs met 8-6 te wen.

In 1993 het die Franse die Bokke weer platgetrek en die reeks van twee toetse met 1-0 gewen. Dié Franse span het die kern uitgemaak van die Wêreldspan van 1995, en die Franse in 1995 is ʼn span wat ek steeds glo baie ongelukkig was om nie die Webb Ellis-trofee omhoog te hou nie. Die Franse is nog bitter oor die Walliese skeidsregter Derek Bevan se vertoning in die halfeindstryd teen die Bokke op Kingspark toe hy nie ʼn drie aan Benazzi toegeken het nie.

Die Bokke en Hane het reeds  39 keer kragte gemeet, waarvan die Bokke 22 keer aan die wenkant was. In Suid-Afrika het die Bokke tien van die 21 toetse gewen en die Franse ses (Vyf was gelykop, ʼn bewys dat die Franse die slaai kan deurmekaarkrap.)

Om oor Franse rugby verslag te doen, is pure plesier. Gys Pitzer wat Alain Plantefol met ʼn kort regter droomland toe stuur, die kleine Roger Bourgarel wat soos ʼn neet aan Frik du Preez klou en hom plattrek, Guy Camberabero wat die skepdoele deurjaag,  Sardourny en Blanco wat langafstand-drieë afrond …

Dit sal ʼn groot toets vir die Bokke ná hul teleurstellende vertonings in 2016 wees. Hopelik sal Allister Coetzee dan avontuurlike wenrugby speel, hopelik sal die ou hout uitgekap wees, en hopelik  sal jong en vaardige spelers kanse kry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.