Dis nou dat die ware leiers na vore moet tree

SA Rugby logo cropElke Jan Rap klim nou op die wa, en elke rugbyskrywer en ondersteuner lig sy mening oor wie die leisels  by Allister Coetzee as Bokafrigter moet neem.

Selfs in Australië, daar waar rugby nie eens die agterblaaie van die koerante haal nie, word die name rondgegooi. Die jongste is in Sydney en word John Mitchell (en Jake White) as Coetzee se moontlike opvolger(s) genoem. Die einste Mitchell, wat verlede jaar in die pylvak was om by die Westelike Provinsie (toe hulle nog geld gehad het) oor te neem, maar toe nie aangestel is nie nadat die Goue Leeus (en ek is seker oor die Western Force) oor hom gepols is.

Niemand betwis Mitchell en White se vermoë nie, maar hoe lank sal dié huwelik hou voordat dit ook in die hof sal beland?

Ook op die lysie is Johan Ackermann en Swys de Bruin, Franco Smith, Gert Smal, Jimmy Stonehouse, Brendan Venter en Robbie Deans. Almal bewese afrigters, maar sal dit Suid-Afrikaanse rugby se probleme oplos?

Suiwer op papier, met sy vrotsige vertoningslys, sy spankeuses en sy spelpatroon,  moet Coetzee ná net een seisoen vervang word.

Maar, soos Nick Mallett dit jare lank al bepleit, en ook soos Naas Botha, Joel Stransky, Jean de Villiers, Breyton Paulse, Brendan Venter en Victor Matfield  dit weekliks stel,  Suid-Afrika se rugbyprobleme sal nie opgelos word net deur Coetzee te vervang nie.

Dit strek dieper as dit. Dit behels die algehele herstrukturering op alle vlakke, ʼn diepe selfondersoek; en dit behels ʼn algehele kopskuif oor politiekery.

Waar het dinge verkeerd begin loop, waar het die rugbybase (let wel, nie net Coetzee nie) die kluts kwytgeraak? Was dit nie in die raadsale nie?

Dis nou wanneer die ware leiers na vore moet tree, want die bloeding moet gestop word. Dis nou wanneer die belangrikste besluite oor die toekoms van rugby geneem moet word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos ·

‘n Vis vrot van sy kop af. Begin by SARU. Na die aanstelling van Jurie Roux (oor wie se kop nog steeds ‘n hofsaak hang, aanhangig gemaak deur die Universiteit van Stellenbosch) en onder aanvoering van Oregan Hoskins het Springbokrugby met rasse skrede agteruit gegaan. Hul swak besluite word geillustreer deur die aanstelling van die onbekwame Allister Coetzee as afrigter. Belaglike rasgebaseerde spankeuses om die regime te beindruk het die proses verhaas. Die ergste is dat daar geen rugby-strateeg en geen planmaker in sig is om die situasie te red nie. Springbokrugby soos ons dit geken het: R.I.P. (respice in pacem).

callie ·

Hoekom probeer almal die fout op enige plek anders soek. Ja in die raadsale word die kwotas gestel wat vir jare ons rugby stelselmatig verswak het. Almal beweer ons het die talent. Gaan luister maar na superugby en kyk wat die kenners skryf. Die geploeter, swak verdediging, lusteloosheid, wegskop van besit, vorentoe aangee, mense is oor daar geen game plan is nie, spelers het geen vertroue in die man langs hom nie en daar is duidelik geen oefeninge teen teenstand om druk situasies te leer hanteer nie. ASB AC wees opreg, bedank saam met jou afrigtingspan en al die raadslede. Stel oorsese afrigter aan en vergeet kwotas. dan wen ons weer. Tot dan, maroela wat nie my goed plaas nie moet dit wees RIP SA rugby. Sal ander lande se rugby kyk. Klaar met die patetiese gemors.

Gys ·

Ek wonder maar net waarom dieselfde argumente om Alistair Coetzee te beskerm nie ook geopper is toe Heyneke Meyer gekruisig en vir die wolwe gegooi is nie???

Nee wat die hele lot is papbroeke! ·

Dit het alles begin by inmenging, jy kan nie n span kies op kwotas,net meriete swart of wit is al wat tel! Die Springbok span was hoogs kompeterend so 20″jaar terug so wat het dit stelselmatig afgebreuk totdat dit op een van die swakste standaard ooit??? Om uit vorm ouhout spelers aan te hou kies oor hul n kwota vul as dom man,belaglik man vat bietjie die rugby publiek ernstig geen wonder die fooie droog op nie!As transformasie dan so belangrik is vir versoening wat van die swak sokker span bafana bafana hul kan sekerlik nie slegter doen met meer wit spelers nie of hoe?? Ongelukig is die skade klaar gedoen, baie van ons talent speel nou oorsee waar hul wel n kans kan kry en nie gediskrimineer teen sal word nie! En hoe kan n span funksioneer met beperkinge as n afrigter waar jy voor geskryf wat en hoeveel om te kies en bygese Ac moes nooit die Bokke se afrigter gewees het nie wat is sy kwalifikasies.??. So hy is dis daar as n kwota afrigter.Sorry manne jul het n helse kans gevat en dit het erg gebackfire!!!!! Dit is maklik om te se jul neem volle verantwoordelikheid ,watter verantwoordelikheid ?Wat beteken dit om dit te neem manne sonder om n prys te betaal?? Net hol woorde die probleem bly onaangeraak!!!

Arie ·

Elke jaar word die afrigter se kop geëis, ek stem 100 persent saam dat ons probleme bo begin maar dit lyk nie of daar is nie, maar terwyl hulle skoonmaak kan Coetzee ook maar gaan want hy is glad nie beter as die wat onnodig afgedank was nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.