Dis nou wanneer die manne huis toe wil gaan

Murray Mexted en Wynand Claassen – teenstanders in 1981 se toetse, en latere Natalse spanmaats. (Foto: Wim van der Berg)

Wanneer son water begin trek en ʼn rugbytoer einde se kant toe staan, is dit gewoonlik ʼn wyse kaptein of die ware karakters wat die span deurtrek.

Dis ʼn fyn balans wat gehandhaaf moet word en dis hoekom ʼn baie groot taak op die Britse en Ierse Leeus se afrigtingspan in Nieu-Seeland wag.

Jy kan nie dan met jou kaptein rondval nie, jy kan nie dan vir ʼn André Venter slot toe skuif om vir Bob Skinstad plek te maak nie.

Jy moet raakvat, die spelers is moeg en sommige van hulle wil huis toe gaan, want die grootste gros sal nie weer op toer speel nie.

Dit begin Donderdag wanneer die span vir die tweede toets aangekondig word. Slaag Warren Gatland-hulle om die regte groep te kies, kan die Leeus Saterdag se tweede toets wen, maar as hulle weer slae kry, is die spangees daarmee heen, die drome verpletter en kan die toerspan uitmekaar spat met die derde toets wat nog aanstaande Saterdag in Auckland wag.

Dit gebeur met elke toerspan en op elke toer.

Die Bokke was in 1971 en weer in 1981 in die onbevoorregte bevoorregte posisie dat omstandighede buite hulle beheer die span saamgesnoer het.

Die Bokke se toer in 1971 na Australië was ʼn amperse ramp, maar  tog het die span van Hannes Marais onoorwonne gebly – die enigste Bokspan nóg wat dit kon regkry. Hulle het 386 punte aangeteken en net 102 afgestaan, maar die toer was só erg ontwrig dat die premier van Queensland, Joh Bjelke-Petersen, ʼn noodtoestand afgekondig het.

Velde is beskadig,  rugbypale is afgesny, baie hotelle het geweier dat die Bokke daar tuisgaan, in die meeste hotelle het die personeel geweier om die Bokke te bedien, om hul wasgoed te was, om hul oproepe na Suid-Afrika deur te skakel, om hulle te vervoer.

Wedstryde is noodgedwonge na skougronde en krieketvelde verskuif en agter rye en rye doringdraad voor honderde berede polisiemanne gespeel terwyl duisende betogers geraas, gesing en gedreig het.  Dit het ʼn paar keer in ʼn bloedbad ontaard en dis dan wanneer Frik du Preez die aand sy kitaar uitgehaal het om die ys te breek.

In 1981 moes Wynand Claassen-hulle in Nieu-Seeland ook die ergste ontbeer. Die land was in twee geskeur, en die span moes in kleedkamers voor toetse bly en op matrasse op die grond in muurbalbane slaap. Dit was ʼn toer van meelbomme en geweld, maar dit het die Bokke nader aan mekaar gebring. Ai, was dit nie vir die Walliese skeidsregter Clive Norling nie, kon die Bokke die toetsreeks gewen of gedeel het.

Het die Leeus van 2017 die wilskrag om dieselfde hoogtes bereik?

Gaan die Bokke later vanjaar in die Rugbykampioenskap ook die deursettingsvermoë van Hannes Marais-hulle in 1971 en Wynand Claassen in 1981 hê?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.