Dis Nylstroom teen Mogol in Waterbergstryd

Dis Nylstroom teen Mogol in die eindstryd Vrydag op Ellisras van die Limpopo Blou Bulle se Waterberg-reserweliga.

Nylies het in sy laaste rondomtalie-kragmeting met 20-18 teen die Kwaggas van Warmbad deurgeskraap, nadat hy rustyd met 10-8 voor was.

Martin Kleynhans, die voorsitter van Nylstroom, sê dit was ʼn baie fisieke wedstryd, wat waarskynlik albei spanne se hardste wedstryd van die seisoen was.

“Nylstroom kon die nekslag eers in die laaste paar minute toedien.

“Warmbad, met ʼn baie jong span, het byna vir ʼn verrassing gesorg deur Nylstroom deurlopend op die agtervoet te hou met slim berekende skopwerk, en ʼn agttal wat alle fasette van die spel oorheers het.

“Die wenspan het egter koelkop gebly, en uiteindelik met behulp van sy ervare manne die knoop deurgehak.”

Tiaan Bestbier het met ʼn drie, ʼn doelskop en ʼn strafdoel die helfte van Nylstroom se punte aangeteken. Meyer Ferreira en Reynecke Schutte het sy ander drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.