Dis Rose teen Hane in Sesnasies

Frankryk vier hul oorwinning oor Wallis in Maart verlede jaar. (Foto: Guinness Six Nations/Facebook)

As alles volgens plan verloop gaan Frankryk en Engeland mekaar op 19 Maart in Parys pak om te bepaal wie wen vanjaar se Sesnasies-toernooi.

Die gevaarlike Franse het gister hul opmars voortgesit en met 36-17 met Skotland afgereken op Murrayfield. Die Hane het met vonkelrugby ses drieë ingeryg met twee vir vleuel Damian Penaud. In die eerste helfte het die Suid-Afrikaans gebore slot Paul Willemse ook ʼn drie gedruk.

Die Franse kon selfs bekostig dat hul skopper Melvyn Jaminet sy skopskoene by die huis gelos het want hy het misluk met twee strafskoppe en twee skoppe om drieë te verdoel.

Dit was die Franse se eerste oorwinning in Edinburgh sedert 2014 en hulle is nog onoorwonne ná drie wedstryde in vanjaar se toernooi.

Die tuisspan het twee drieë gedruk. Die Suid-Afrikaans gebore vleuel Duhan van der Merwe het een van hulle gedruk al was dit net ʼn troosdrie laat in die wedstryd.

Die Skotte het die toernooi met groot belofte begin nadat hulle Engeland in hulle eerste wedstryd geklop het. Hulle kanse om die trofee te verower is aan skerwe nadat hulle ook twee weke gelede teen Wallis verloor het.

Die Franse se volgende wedstryd is op 11 Maart teen Wallis in Cardiff en dan wag Engeland op 19 Maart op Twickenham. Die Hane is vier punte voor die Engelse op die punteleer.

Engeland het Wallis op Twickenham met 23-19 geklop om te sorg dat hulle die Franse kan jaag op die punteleer. Die tuisspan se oorwinning was alles behalwe oortuigend en afrigter Eddie Jones het baie om oor te peins.

Met net nege minute oor was Engeland met 23-12 voor, maar Wallis het teruggeveg en het die einde van die wedstryd oorheers.

Engeland speel op 12 Maart op Twickenham teen Ierland en dan kom kuier die Franse ʼn week later.

Vanmiddag 17:00 Suid-Afrikaanse tyd speel Ierland teen Italië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Boer

Solank die Franse net vir Eddie still speel soos die Bokke in WC final sal dit n lekker dag wees.