Van die ses wedstryde wat Saterdag in Europa tussen die voorste rugbylande gespeel word, is daar net ʼn enkele kragmeting, tussen Ierland en Argentinië, waar die betrokke teenstanders met meer as drie plekke op Wêreldrugby se ranglys verskil.
Dus kan jy jou maar klaarmaak vir harde, ware toetsrugby. Hardloop met die bal, sal in baie gevalle ondergeskik wees aan wen, want toetsrugby blý toetsrugby ‒ en verskonings van beserings sal nêrens as verskoning aangevoer word nie.
Vir die spelers is die ranglys ondergeskik aan die wen van ’n toets, hoewel die afrigters, die lande se rugbyunies en borge graag vordering wil sien.
♦ Die enigste wedstryd waar die spanne meer as drie plekke van mekaar op die ranglys is, is dié tussen Ierland (tweede gekeur) en Argentinië (negende), terwyl die wedstryd tussen Georgië (13de) en Italië (14de) die enigste van die ses wedstryde is waar die twee spanne met minder as drie plekke verskil.
Vir die All Blacks, wat wel teen Engeland as gunstelinge op die veld sal draf, is die wedstryd van groot belang. Verloor hulle (dis baie onwaarskynlik) op Twickenham, kan hulle deur Ierland in die eerste plek vervang word mits die Iere oor twee weke in Dublin teen Nieu-Seeland kan wen ‒ en dit is alles behalwe vergesog.
Engeland kleef benoud aan die vierde plek vas, maar ʼn verrassing teen die All Blacks behoort hulle voor die Wallabies in die derde plek te laat inskuif, selfs al klop Australië vir Wallis. (Om die waarskynlikhede van elke wedstryd se ranglyspunte vir elke span uit te werk met wen, verloor en gelykop as moontlikheid in elke wedstryd, is ʼn onbegonne taak sonder die nodige stelsels waarmee dit deur Wêreldrugby gedoen word.)
Vir Suid-Afrika hou ʼn neerlaag teen Frankryk die moontlikheid in dat Australië met die Bokke kan plekke ruil.
En steur ʼn mens jou aan die ranglys?
Gewis! Kyk maar net na die kritiek as die Springbokke ná ʼn neerlaag afskuif of ná ʼn oorwinning nie opgeskuif word nie!
Saterdag se wedstryde (ranglys-posisie van die betrokke spanne in elke wedstryd tussen hakies) ‒
(14 vs 13) Italië vs Georgië, Stadio Artemio Franchi (Florence), 16:00
(7 vs 10) Skotland vs Fidji, Murrayfield 16:30
(4 vs 1) Engeland vs Nieu-Seeland, Twickenham 17:00
(3 vs 6) Wallis vs Australië, Principality-stadion, 19:20
(2 vs 9) Ierland vs Argentinië, Aviva-stadion 20:30
(5 vs 8) Frankryk vs Suid-Afrika, Stade Francais (22:05)