Dis so maklik om die bal op die rusbank te vang

Dit gebeur wel dat die bal op die doellyn verloor word (Foto Daily Mail)

Dit gebeur wel dat die bal op die doellyn verloor word (Foto: Daily Mail)

Daar is min dinge in rugby, eintlik in alle sport, wat met jou kop kan smokkel soos druk.

Dink maar hoe goed jy in die nette gekolf het net om vir ʼn nulletjie in ʼn wedstryd uitgehaal te word, aan hoeveel balle jy met dryfinkies gevang het net om die bal van die afskop af in ʼn wedstryd aan te slaan, dink maar aan daai skop reg voor die pale wat jy verbrou het, of oor daardie sethou van een meter wat verby die blikkie gerol het.

Die huidige wêreldrekord, dis nou dié ene wat in die Guinness-wêreldrekordboek opgeteken is, is in 2010 in Wallis opgestel – 279 aangeë sonder om die bal aan te slaan.

Goed so, het die organiseerders van die Graeme Dingle-stigting in Hamilton, Nieu-Seeland, gedink. Kom ons verbeter die rekord, die Chiefs speel immers in Hamilton en daar loop honderde begaafde rugbyspelers rond.

Die reëls is eenvoudig. Spelers moet vyf meter uitmekaar staan en kry vyf sekondes om die bal te vang en uit te gee. Daar word ook drie kanse gegee om die rekord te laat spat.

Die eerste poging het seepglad verloop, maar slegs 178 deelnemers het opgedaag en dus kon die rekord nie erken word nie.

Die organiseerders het die plaaslike skool, Fairfield-kollege, genader om nog deelnemers te stuur, maar volgens stuff.co.nz is die bal met elke poging drie keer laat val.

“Bottervingers,” sou die opskrif in die koerant gewees het.

Jare gelede, toe Gary Player nog aktief gholf gespeel het, het hy klinieke aangebied en vertonings gelewer. Player het ʼn sethou van twee meter gemis en vanselfsprekend het een van die toeskouers ge-oe en ge-aa.

“Ek gee jou R1 000 as jy dit kan doen,” het Player aan die ondersteuner gesê. Dit was destyds meer as ʼn maand se salaris.

Net voordat hy geset het, het Player nader gestap en gesê: “Kom ons maak dit R2 000 van my kant af.”

Vanselfsprekend het die ondersteuner met die sethou misluk.

Dis hoekom Bryan Habana die bal in ʼn toets aanslaan, hoekom Morné Steyn nie die bal in ʼn toets uitskop nie, en dis hoekom Joe Petersen of Fred Zeilinga die bal voor die pale misskop.

Dis so maklik om die bal op die rusbank te vang, dis so maklik om die bal om die braaivleisvuur van enige plek af oor te skop.

Dis menslik om foute te begaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

What a joke! ·

Ja soms of soms is dit gekook!!!!baie geld op die soel!

Jack Russl ·

Dit is waar dat hulle ook mense is en hulle kan foute maak. Die verskil is dat hulle op die toppunt van hulle sport is en sekere skoppe en vangskote is tweede natuur vir hulle. Ons verwag nie dat hulle elke bal moet vang en elke bal moet oorskop nie, maar as die druk te groot is vir daardie speler om die basiese te doen dan hoort hy nie daar nie.

Oor Gary Player, ek verstaan dat hy sal omgekrap wees oor die toeskouers. Dit sou bloot vir daardie persoon ‘n gelukskoot gewees het om die bal in die gat te kry. Golfspelers maak ook foute, maar 99/100 sal hy daardie sethou gemaak het. Verskil baie van ‘n persoon wat dag in en dag uit dit oefen en ‘n persoon wat elke dag agter ‘n lessenaar sit. Goeie sportmangees om die toeskouer ‘n kans te gee, maar om hom te onderbreuk net voor hy wou slaan is volgens my bietjie swak sportmangees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.