Dis steeds armdruk vir ʼn Curriebeker-plek

Valke-logoIn die opstellende ronde meet twee van die gunstelinge om saam met die ses franchise’e deur te dring na die Curriebekerreeks wat eers in Augustus begin, die naweek kragte.

In Kemptonpark speel die Valke teen Griekwas, seker dié gunsteling om hom later by die ses franchise’e te voeg.  Dit is wel ʼn nuwe seisoen, maar Griekwas, wat verlede week goed begin het teen Griffons, sal bewus wees van die gevaarlike Valke wat elke jaar tussen die heel bestes in die Eerste Liga-reeks is.

♦  Die SWD Arende het laasjaar in die Eerste Liga-eindstryd teen die Luiperds verloor maar is jaar in en jaar uit op sy dag ʼn moeilike kalant. Hulle kom te staan teen die Pumas, wat nes Griekwas verlede jaar nog in die uitsoekafdeling van die Curriebekerreeks gespeel het maar nou weer moet kwalifiseer.

Op George sal die Pumas moet  ligloop.

♦  Grens het verlede week op Ellispark met die Goue Leeus XV afgereken. Verlede jaar het hulle in die Eerste Liga ook goed weggespring maar kon dit volhou nie.

Vrydag speel Grens teen die Sharks XV wat verlede week lelik teen die Boland Kavaliers vasgeval het. Die Durbaniete sal hierdie wedstryd nie sommer as vanselfsprekend kan aanvaar nie, hoewel ʼn neerlaag vir die Sharks XV sekerlik sal beteken dat iets aan’t gebeur is by die Grens.

♦ Die Blou Bulle het teen die WP vasgeval, terwyl hulle teenstander Saterdag, die Vrystaat XV maklik teen die Welwitchias van Namibië gewen het. Dit is nog ʼn moeilike wedstryd vir die Ligbloues.

♦  Ondanks hulle neerlaag teen Griekwas verlede week, is die Griffons op hulle tuisveld in Welkom altyd moeilikheid, en hulle buurspan die Luiperds sal moet uithaal om hulle status as een van die gunsteling nie-franchise’e gestand te doen.

Geoordeel aan die gemak waarmee die Vrystaters met die Welwitchias afgereken het, behoort die Goue Leeus XV maklik in Windhoek te wen. Maar ʼn mens weet mos van die tuisveldvoordeel wat beplanning kan belemmer.

♦  Die Boland lyk vanjaar na  `n span met nuwe idees, en hulle het nuwe spelers en in Brent Janse van Rensburg ʼn baie goeie afrigter. Hulle sal, geoordeel aan die pak wat hulle die Sharks toegedien het, in Wellington seker te sterk wees vir die jongerige span van die OP Kings.

Die bepalings –
Vrydag:
15:00   Valke vs Griekwas, Kemptonpark
16:00   SWD Arende vs Pumas, NMMU Saasveld
19:00   Grens vs Sharks XV

Saterdag:

14:15   Blou Bulle vs Vrystaat XV, Loftus
15:00   Griffons vs Luiperds, Welkom
16:00   Welwitchias vs Goue Leeus XV, Windhoek
16:00   Boland Kavaliers vs OP Kings, Wellington

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.