Dis sulke dinge wat rugby lekker maak

Ruan Ackermann – rugbybloed in sy are (Foto: GB Jordaan)

Dis een van rugby se gunsteling-tydverdrywe om gesinne uit te lê, en om die vordering van oud-Bokke en ander internasionale spelers se seuns se loopbane te volg.

Dink maar aan die pa-en-seun-kombinasies wat vir die Bokke gespeel het, aan die talle broers wat ook die Groen en Goud oor die kop getrek het.

Dink ook aan die oud-Bokskrumskakel Robert du Preez se drie seuns, Robert, Jean-Luc en Daniel, aan Johan Ackermann se seun Ruan, Carel du Plessis se Jean-Luc en Michael du Plessis se Daniel.

Jean-Luc du Preez is reeds ʼn Springbok, die ander kan dalk volg.

Die Franse o.20-keurders het nou hul span aangewys vir die komende Rugbykampioenskap in Georgië en daar is drie name wat die oog getref het: Romain Ntamack, Alexandre Roumat en Daniel Brennan.

Alexandre Roumat is ʼn ewebeeld  van sy pa, Olivier Roumat, wat verskeie kere saam met die Franse in Suid-Afrika was en ook ʼn seisoen of twee vir die Sharks gespeel het. Die jong Roumat speel agtsteman terwyl Olivier een van die wêreld se beste slotte was.

Emile Ntamack se vlugvoetige seun speel losskakel vir die jong Franse en hy het dieselfde flair as sy pa.

Brennan, wat in 13 toetse vir die Iere slot gespeel het (ook ʼn paar keer teen die Bokke) se seun speel stut. Hy weeg ʼn allemintige 121 kg en is 1,93 m lank.

Hou hulle maar dop as hulle dalk teen die Junior Bokke speel.

Maar niemand kan by die Tuilagi-, Stanley- en Faletau-Vunipola-gesinne kers vashou nie.

Alesana, Anitelea, Freddie, Henry en Sanale Vavvae Tuilagi is broers en het almal vir Samoa gespeel. Boonop is hul jongste boetie, Manu Tuilagi, een van Engeland se senters. Hy sou in die Britse en Ierse toerspan na Nieu-Seeland gewees het as hy nie met langtermyn-beserings gesukkel het nie.

Joe Stanley (All Blacks) is die pa van Jeremy, Chase en Kyle Stanley wat almal óf vir die All Blacks óf vir Samoa rugby en rugbyliga gespeel het. Joe Stanley is die oom van Benson Stanley (All Blacks) en Michael Stanley (Samoa).

Joe is ook verwant aan die Wallaby-losskakel Quade Cooper (vandaar sy Nieu-Seelandse bande) en die Skotse (en gewese Crusaders-vleuel) Sean Maitland.

Kuli (Tonga) is Taulape (Toby) Faletau (Wallis en Britse en Ierse Leeus) se pa en hul broerskinders, Billy en Mako (albei Engeland en Britse en Ierse Leeus)  en Fe’ao Vunipola (Tonga) het reeds diep spore getrap.

Uit Nieu-Seeland is daar ook nog die Barretts en die Whitelocks.

Beauden, die All Blacks se losskakel, is die bekendste van die vier Barrett-broers. Sy broer Scott van die Crusaders het ook al toetsrugby gespeel, sy jongste broer Jordie speel vir die Hurricanes heelagter en is in vanjaar se nasionale o.20-span vir die Wêreldkampioenskap, hulle oudste broer Kane het die Blues verteenwoordig en hulle pa Kevin het vir die Hurricanes en ook 167 wedstryde vir die provinsiale span Taranaki gespeel.

Die vier Whitelock-broers, Sam (slot, 84 toetse), Adam (vleuel), Luke (losvoorspeler) en George (flank) het almal vir die All Blacks toetsrugby gespeel. En George se vrou, Kayla (Sharland), was Nieu-Seeland se hokkiekaptein, het in meer as 200 toetse gespeel en ook onder meer aan vier Olimpiese Spele deelgeneem.

Sjoe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.