Dis terugbetaaldag op Ellispark

springbok-rugby-logoIs dit die Bokke se omdraaiplan waarvan almal droom, of loop ʼn mens dinge te gou vooruit?

ʼn Mens moet nooit te arrogant raak in rugby nie, veral nie as jy net twee opeenvolgende oorwinnings behaal het en nog nooit die Franse op Ellispark kon klop nie.

Maar jy hoef ook nie te beskeie oor die Bokke se vertonings van die afgelope twee weke te wees nie. Gee hulle die krediet waar dit toekom, klop hulle op die skouer waar dit hoort.

Ja, die All Blacks lê nog voor, die nederlae teen die Wallabies en Poemas moet gewreek word, maar die grondslag is gelê.

Vier en sewentig punte in net twee toetse, net 29 afgestaan en agt drieë gedruk teenoor vier.

Ja, die Franse was in 1958 met 9-5 baas; ja, hulle het in 1967 met 19-14 gewen; ja, hulle was in 1993 met 18-17 aan die wenkant en ja, hulle het in 2001 teen al die verwagting in met 32-23 gewen.

Maar om eerlik te wees, die Franse het nie meer die spelskeppers en spelbrekers van die verlede om die Bokke se partytjie op Ellispark te versuur nie.

G’n Lucien Mias, Guy Camberabero, Jo Maso, Roland Bertranne, Philippe Sella, Jean-Luc Sardourny, Benoit Dauga, Walter Spanghero en sulke snare nie.

Gaan kyk maar na die gestoei in die Franse Top14-reeks. Die afrigters  is behep met grootte en krag. Hulle laai hul spanne met die harde, ervare ystermanne van oorsee, soos Duane Vermeulen, Bismarck du Plessis, Juan Smith, Ma’a Nono en ʼn klomp Fidjiane. Dis ʼn geval van spierkrag teenoor breinkrag, om te oorheers om die eienaar tevrede te stel, om die astronomiese kontrakte te regverdig.

Dis hoekom die Franse loodvoetig en moeg in die eerste twee toetse voorgekom het, want hulle is voos gespeel – soos almal sing: geen pretensie, geen beheer.

Nou is die skoen aan die ander voet.

Die Bokke, met sewe Lions en twee vlugvoetige Bulls in die opdrafspan, speel teen ʼn vinnige tempo, hulle rek die bal wyd, hulle skep kanse vir hul medespelers. Hulle plaas hul lywe vir mekaar op die spel, maar voer eers die basiese beginsels uit.

Ai, dat dit Allister Coetzee só lank geneem het om dit te aanvaar.

Boonop maak die Bokke se plaasvervangersbank ʼn groot verskil wanneer Coenie Oosthuizen, Jaco Kriel en Frans Steyn losgelaat word.

Alles dui dus op nog ʼn Bok-oorwinning.

En moet ook nie vergeet nie dat iemand in die Bokke se ore gaan fluister wat op 24 Junie 1995 gebeur het nie. Nie die Boeing wat laag oor die stadion gevlieg het nie, nie die All Blacks wat die haka uitgevoer het nie en nie oud-president Nelson Mandela wat met ʼn nr.6-trui blad geskud het nie, maar oor Bok-eenheid en samespel wat tot die wenskepdoel van Joel Stransky gelei het om die Webb Ellis-beker vir vier jaar aan Suid-Afrika te laat behoort.

My voorspelling? Die Bokke behoort met 20 punte te wen.

Arrogant? Beslis nie, dis rugby-logika.

Spanne –

Suid-Afrika: 15 Andries Coetzee, 14 Raymond Rhule, 13 Jesse Kriel, 12 Jan Serfontein, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Francois Hougaard, 8 Warren Whiteley (kapt.), 7 Jean-Luc du Preez, 6 Siya Kolisi, 5 Francois Mostert, 4 Eben Etzebeth, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Coenie Oosthuizen, 19 Pieter-Steph du Toit, 20 Jaco Kriel, 21 Rudy Paige, 22 Frans Steyn, 23 Dillyn Leyds.

Frankryk

15 Brice Dulin, 14 Nans Ducuing, 13 Damian Penaud, 12 Gaël Fickou, 11 Virimi Vakatawa. 10 Jules Plisson, 9 Baptiste Serin, 8 Louis Picamoles, 7 Kevin Gourdon, 6 Yacouba Camara, 5 Romain Taofifenua, 4 Yoann Maestri, 3 Rabah Slimani, 2 Guilhem Guirado (kapt.), 1 Jefferson Poirot. Bank: 16 Clément Maynadier, 17 Xavier Chiocci, 18 Uini Atonio, 19 Paul Jedrasiak, 20 Loann Goujon, 21 Maxime Machenaud, 22 François Trinh-Duc, 23 Vincent Rattez.

Skeidsregter: Angus Gardner (Australië).
Assistent-skeidsregters: Ben O’Keeffe en Glen Jackson (albei Nieu-Seeland).
TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).

Afskop: 17:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

cr ·

Net AC sal weet wat maak bladsy in die span. Hy is beslis daar om die getalle(kwotas) vol te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.