Twee middelmatige spanne soek verligting in Brisbane

springbok-logo-croppedʼn Oorwinning sal nie die probleem van middelmatigheid van die Springbokke oplos wanneer hulle Saterdag (12:05) teen Australië in Brisbane in die Rugbykampioenskap speel nie.

Drie wenne in vyf wedstryde sal darem seker ʼn tydelike verligting vir die Springbokafrigter Allister Coetzee wees. ʼn Mens sê ‘tydelike’ omdat hy in sy agterkop weet die All Blacks wag ʼn week later.

Dit is twee spanne wat dusver vanjaar, selfs na net twee wedstryde in die reeks, onseker rondval op soek na spelers, selfvertroue en in die geval van Suid-Afrika ook na ʼn spelpatroon.

In albei kampe was daar dusver geregverdigde kritiek teen die afrigting en heelparty van die spelers, en dit sal dus ʼn gespanne twee vyftientalle wees wat teen mekaar stelling inneem.

Die Wallabies was twee weke gelede net so vasberade om te wen na hulle deur kritici en ondersteuners uitmekaar gehaal is ná die skitterende vertoning deur die All Blacks die vorige week in Sydney.

Hulle het egter met onaanvaarbare ruwe spel in die tweede toets vorendag gekom, toe hulle wéér pak gekry het. Die All Blacks het erken dat hulle daardeur ontsenu is en hard moes werk daaraan om nie hulle humeure te verloor nie.

Die Bokke kan hulle dus maar vir die taktiek klaarmaak, wat hulle seker gedoen het. Die gevaar is dat ʼn warmbloedige Bok dalk mag reageer en die trekpas kry.

Wat die spel self betref: Suid-Afrika sal die Wallabies se lynstaan, wat teen die All Blacks baie wankelrig was, teiken. Selfs die insluiting van Dean Mumm om agter in die lynstane – hy sal seker ook ʼn bietjie rondloop – ten heel minste lastig te wees is nie noodwendig ʼn oplossing nie.

Die skrum sal interessant wees. Die Wallabies is heel stewig maar het hier en daar teen die All Blacks geswik. Suid-Afrika netso teen die Poemas. Die insluiting van Lourens Adriaanse in die beginspan sal nie slaag tensy Beast Mtawarira ook eindelik weer sy kant bring nie.

Kyk jy na die afbreekpunte, het die tuisspan twee van die wêreldbestes in David Pocock en Michael Hooper. Suid-Afrika het net een baljagter, Francois Louw. Ver van sy beste af op die oomblik, kom Louw darem redelik gereeld eerste by die afbreekpunte aan.

Selde het hy egter die hulp van ʼn mede-Bok om te help skoonmaak terwyl hy die bal probeer afneem. Groter dringendheid om hom te help deur sy spanmaats eerder as om te vroeg reeds op die verdediging stelling in te neem, sal hier ook help.

Die Wallabies se agterlyn het nie teen die All Blacks veel uitgerig nie. Hulle was die hele tyd onder druk, deur die voorspelers van Nieu-Seeland wat oorheers het. Hegte verdediging sal nietemin deur die Bokke nodig wees.

En van verdediging gepraat: die Wallabies was baie, baie middelmatig in hulle twee toetse tot dusver. Dit kan dalk uitgebuit word, mits die Bok-skakels uithaal en wys.

Wie weet, dalk kry Elton Jantjies, sonder selfvertroue, en Faf de Klerk, uitstekend met breekslae, sy ondersteuning en keerwerk maar nie meer as gemiddeld met sy basiese skrumskakelwerk van takties skop en vinnig (en akkuraat!) skoonmaak nie, ook hulle ding agtermekaar.

Spanne –

Australië:
15 Israel Folau, 14 Dane Haylett-Petty, 13 Samu Kerevi, 12 Bernard Foley, 11 Reece Hodge, 10 Quade Cooper, 9 Will Genia, 8 David Pocock, 7 Michael Hooper, 6 Dean Mumm, 5 Adam Coleman, 4 Kane Douglas, 3 Sekope Kepu, 2 Stephen Moore (kapt.), 1 Scott Sio. Bank (uit): 16 Tatafu Polota-Nau, 17 James Slipper, 18 Allan Ala’alatoa, 19 Rory Arnold, 20 Sean McMahon, 21 Nick Phipps, 22 Tevita Kuridrani, 23 Drew Mitchell

Suid-Afrika
15 Johan Goosen, 14 Bryan Habana, 13 Jesse Kriel, 12 Juan de Jongh, 11 Francois Hougaard, 10 Elton Jantjies, 9 Faf de Klerk, 8 Warren Whiteley, 7 Oupa Mohoje, 6 Francois Louw, 5 Lood de Jager, 4 Eben Etzebeth, 3 Lourens Adriaanse, 2 Adriaan Strauss (kapt.), 1 Tendai Mtawarira.
Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Franco Mostert, 20 Pieter-Steph du Toit, 21 Jaco Kriel, 22 Morné Steyn, 23 Lionel Mapoe.

Skeidsregter: Nigel Owens
Afskop: 12:05

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.