Dis twee uit twee vir ‘SA’ in Europese reekse

saracens logoSaracens het dit twee uit twee vir die spanne met `n sterk Suid-Afrkaanse kleur in die Europese reekse gemaak toe hy Saterdag in gietende reën in Lyon, Frankryk, die Europese Kampioenskap gebuit het.

Die klub, wat deels deur die SA Rupert-familie besit en deur die Engelse senter en gewese Sharks-speler Brad Barritt aangevoer word, het Racing Metro 92 van Frankryk 21-9 geklop.

Nes die geval met die gewese Springbok-afrigter Jake White se Hérault Montpellier, wat Vrydag die Europese Uitdaagbeker gewen het, is dit die heel eerste keer dat Saracens die Kampioenskap wen.

Die Engelse losskakel, Owen Farrell, het ál die wenspan se punte met sewe strafdoele behaal.

Die Springbok Johan Goosen, het op sy beurt al die Franse klub se punte met drie strafdoele aangeteken. Hy het die skopwerk behartig selfs voor die internasionale rugbyspeler van die jaar, Dan Carter, vroeg in die tweede helfte hinkepink van die veld af is.

Benewens Barritt het die Suid-Afrikaners Schalk Brits, Petrus du Plessis en Michael Rhodes Sarries in die eindstryd verteenwoordig.

Hoewel hulle nie Saterdag in aksie was nie, speel die Bokke Alistair Hargreaves (wat Sarries gereeld lei) en Neil de Kock asook Jared Saunders, Jacques Burger (die Namibiese kaptein) en Nils Mordt (Zimbabwies-gebore kleinneef van die Boklegende Ray Mordt) eweneens vir die Londense klub.

Metro had self nie `n skaarste aan SA uitgewekenes in sy span nie. Francois van der Merwe (seun van die Springbok Flippie van der Merwe) en die Franse toetsflanke Bernard le Roux en Anthonie Claassen (seun van die Springbok-kaptein Wynand Claassen) het naas Goosen vir die span uitgedraf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.