Dis die klein dingetjies in rugby wat van rugbyspelers helde maak.
My pa het altyd vertel hoe die jong garde hul hare borselkop geskeer het, want almal wou soos Tom van Vollenhoven lyk.
Toe ek jonk was, wou almal slot speel en Frik du Preez wees. Kleintjies, grotes, vettetjies.
Ek het sy handtkeninge soos ʼn keinnood bewaar, veral dié ene op ʼn plakaatfoto wat in Die Brandwag verskyn het en waarop hy my naam geskryf het. Jaar in en jaar uit, wedstryd ná wedstryd het hy sy handtekening uitgedeel, want hy het geweet wat dit vir ʼn kind beteken.
Een van my kosbaarste besittings was toe die oud-Bokagtsteman Tommy Bedford sy stel sokkies ná ʼn wedstryd aan my gegee het. Ek het daarin gespeel en geslaap en was vies wanneer my ma my Maandagoggende beveel het om dit in die wasgoedmadjie te gooi.
Dis hoekom die All Blacks só gewild is, dis hoekom hulle bo ander spanne uittroon, veral weg van die huis af.
Saterdag ná die toets teen Wallis in Cardiff het die All Black-heelagter Damian McKenzie sy ouers langs die kantlyn gaan groet. Daar was vanselfsprekend baie Walliese ondersteuners wat om hulle saamgedrom het. En wat doen hy toe? Hy trek sy rugbyskoene uit en gee dit aan ʼn 6-jarige grootoog-ondersteuner wat die toets saam met sy pa bygewoon het. Só ook Codie Taylor en ʼn rits ander All Blacks.
Dit was nie vir die kamaras bedoel nie, dit was uit hul harte uit en sou nie die nuus gehaal het nie as die Walliese ondersteuners nie daaroor getwiet het en foto’s van hul grootoog-seuntjies geplaas het nie.
En wat van later die aand by die All Blacks se hotel toe daar ook ondersteuners saamgedrom het, maar deur die veiligheidspersoneel van die span af weggehou is?
Sonny Bill Williams het na die ondersteuners gestap en gevra dat die veiligheidswagte ’n rukkie anderkant toe kyk. Hy het van die jongelinge aan die hand gevat en binne toe genooi om ʼn paar minute saam met die All Blacks deur te bring.
Een van die Walliese pa’s se twiets vertel die verhaal: Geagte @SonnyBWilliams jy sal nie oor 5-10 jaar onthou dat jy my seun ontmoet het nie. Hy sal dit vir ewig onthou. Legende. Dankie.
Klein dingetjies, weg van die kameras af.
Die kleindingetjies en waardering wat tel.
Hi Pieter
Ek het nog nooit vir Frik ‘n handtekening sien weier nie en dan doen hy nog moeite om met onbekendes ‘n geselsie aan te knoop asof tyd nie ‘n faktor is nie. Nie ‘n wonder sy handtekening maak enige rugby aandenking soveel kosbaarder nie. Hierdie klein goedjies maak ‘n reuse verskil in aanhangers se lewe. Dankie Frik !! Groetnis
Goeie artikel Pieter. Laat my terugdink aan my kinderdae toe ons nog sporthelde gehad het.
….ja ek onthou hoe die mense in1968 na NT vs WP wedstryd geskreeu het” we want Frik” en hy sowat 10 min na die game uit die kleedkamer gekom het om hulle te groet….
‘n Pluimpie vir een van ons Proteas. David Miller het na sy vinnigste 100-tal in ‘n T20I sy speler-van-die-wedstryd en sy speler-van-die-toernooi trofees vir 2 grootoog seuns van so 10 jaar oud weggegee. Ek sal hul gesiggies nooit vergeet nie. Een van die grootste oomblikke in hul lewens. Miller het geduldig na die wedstryd elke seuntjie langs die veld se kolf en krieketbal geteken. Voorwaar ‘n held en ‘n ambassadeur vir die sport.
Saam met hantekeninge het ook die op-die-veld-storm-na-die-wedstryd gegaan . Wat was lekkerder om op die ou De Beers stadion oor die veld te storm en net aan n natgeswete Mannetjies Roux , Piet Visagie , Koos Waldeck , Denys Voster te raak en hulle n paar kloppe op die skouer ( as jy kon bykom ) te gee . En dan die Maandag by die skool by jou pelle te spog . n Onvergeetlike seunservaring !!