Dis waarom CJ Stander ʼn klip uit graniet is

CJ Stander (Foto: Twitter @munsterrugby)

Lojaliteit kan nie gekoop word nie: Dit is een van daardie eienskappe waaroor enige afrigter droom, want dit kan hom maak of breek.

CJ Stander, ʼn boorling van George, het Donderdag besluit om nie ʼn ongelooflike aanbod van die Franse klub Montpellier te aanvaar nie en vir nog drie jaar in Limerick aan te bly om vir Munster en Ierland te bly speel.

Stander sou een van die rykste rugbyspelers ter wêreld geword het, hy sou R12,6 miljoen per jaar verdien het, meer as Duane Vermeulen, Bryan Habana en Ma’a Nonu, maar hy wou steeds nie daaraan byt nie.

Hy het in 2012 na Ierland te verhuis om sy loopbaan daar voort te sit omdat hy nie as goed genoeg (lees: te klein) beskou is om vir die Bulle en Bulls te speel. Dit nadat hy tussen 2010 en 2012 in 52 wedstryde vir die Blou Bulle gespeel, asook in 16 Superrugbywedstryde vir die Bulls.

En nou, ná 18 toetse vir Ierland, ʼn toets in Nieu-Seeland vir die Britse en Ierse Leeus, 105 wedstryde vir Munster, dié Ierse klub se speler van die jaar, die Ierse rugbyskrywers se Ierse speler van die jaar, het hy en sy vrou Jean-Marie (Ryk Neethling se sussie) besluit om terug te ploeg aan diegene wat hulle destyds oor hom ontferm en hom omarm het.

Stander is nou maar 27 en kan nog jare lank vir Ierland speel … moenie verbaas wees as hy nog as kaptein aangewys word ook nie.

Dit bring ʼn mens uit by Nick Mallett en Gary Teichmann, en Jake White en John Smit.

Teichmann, wat tussen 1995 en 1999 in 42 toetse gespeel het, was in 36 daarvan die Bokkaptein. Hy was Mallett se kaptein toe die Bokke die All Blacks se wêreldrekord van 17 opeenvolgende wentoetse in 1997/’98 geëwenaar het, maar toe pos Mallett hom in 1999 uit die bloute twee maande voor die Wêreldbeketoernooi.

Lojaliteit?

Dit was een van Mallett se grootste foute, een wat hy darem erken het dat hy begaan het.

White het Smit in 2004 as sy kaptein aangewys en deur dik en dun by hom gestaan. Daar was baie kenners wat gemeen dat Bismarck du Plessis die beste haker was, maar White het hom nie daaraan gesteur nie en Smit bly kies, ook soms as stut. Hy het op die ou einde die Springbokke in 83 van sy 111 toetse aangevoer.

Smit het geweet dat as jy lojaal teenoor White bly, sy plek nie in die gedrang sou wees nie, en ook andersom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michiel ·

Jake White het nooit Smit as stut ingespan nie. Pieter de Villiers het wel Smit as stut gekies vir die 2009 seisoen.

Veritas ·

Pieter de Villiers was ‘n stut wat nou nader na Springbokafrigtingsgroep getrek word. Peter de Villiers daarenteen was dieSpringbokafrigter wat Smit as Springbokstut gebruik het.

Michiel ·

Dankie Veritas jy is inderdaad reg. Jammer vir die verkeerde spelling van Coach Divvy

Nakkie die Nar ·

CJ is ‘n YSTER.
Ek haal my hoed af vir hom, hy gaan nog baie bekke STIL speel???!

JOHAN DU PLESSIS ·

CJ se besluit en optrede het net een antwoord, die opvoeding wat hy van sy Pa Jannie en sy Ma gekry het. Hulle en ons is baie trots op CJ se loopbaan. Ek was saam met Jannie in George langs die braaivleisvuur, toe hy vir my vertel het van n baie bekende Springbok Afrigter wat aan CJ gese het, dat hy te klein en te lig is om vir die Springbokke te speel ! Die teendeel is nou bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.