Dissipline en eerstefase-besit Kings se ondergang

Dit wás toe weer dissipline en dié keer ook veral swak eerstefase-spel wat Saterdagaand hoofsaaklik tot die Southern Kings se neerlaag teen Benetton bygedra het.

Die Italianers het Saterdagaand in Treviso met 28-5 ná drie opeenvolgende neerlae in die Pro14-reeks weer op die wenpad gekom in die wedstryd wat feitlik die volle 80 minute in ʼn wolkbreuk afgespeel is.

Die Kings het vyf van hul eie lynstane in die eerste helfte en nóg ʼn paar ná rustyd verloor, en is uit die staanspoor stukkend geskrum.

Die dissipline het ook gelol. Die Kings het 14 strafskoppe afgestaan, hoofsaaklik weens druk op hulle agttal.

Boonop was die rolmale van Benetton een te veel vir die Kings. Hul eerste drie, in die vierde minuut, was die gevolg van ʼn rolmaalbeweging. Net 12 minute later, met die loskop Justin Forwood toe reeds van die veld met sy eerste geel kaart vir doelbewuste ontoelaatbare spel, het die voorspelers van Benetton soveel druk naby die doellyn geplaas dat Dewalt Duvenage vir hulle kon gaan druk.

Die effektiewe rolmaal het ondermeer ook op ʼn strafdrie vir Benetton uitgeloop toe die Kings se slot Schalk Oelofse in die 22ste minuut gestraf is. Hy het die rolmaal van Benetton in duie laat stort en ʼn strafdrie is teen die Kings toegeken.

Die Kings, ná die twee geelkaarte in die 10de en 22ste minuut van die wedstryd, het ʼn derde aan Forwood gekry toe hy nie die skrumdruk kon weerstaan nie en ná vele herhaalde skrumoortredings en -waarskuwings moes stap.

Die outomatiese rooi kaart vir hierdie tweede gele was Forwood se voorland en het ook ʼn strafdrie tot gevolg gehad nadat die Kings se skrum heeltemal verbrokkel het.

♦ Volpunte moet aan die Kings gaan dat hulle in die oorblywende 29 minute met net 14 spelers geen punte afgestaan het nie.

Hulle was ná 22 minute reeds met 0-21 agter en rustyd het die telbord 5-21 gelees voordat die tweede strafdrie in 51ste minuut aan hulle toegeken is.

Benetton het hulle daarna teen die moeilike weersomstandighede en verbete verdediging deur die Kings vasgeloop.

Die Kings se seer lywe het nou drie weke om te herstel voordat hulle tuis op 26 Oktober teen die Scarlets en die daaropvolgende naweek teen Leinster speel.

Puntemakers ‒

Benetton (21) 28: Drieë: Luca Bigi, Dewaldt Duvenage, strafdrieë (2). Doelskoppe: Tommaso Allan (2).
Southern Kings (5) 5: Drie: Yaw Penxe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Wedstryd na wedstryd dieselfde ou storie SA spanne. Dissipline en ook hanteer werk. Niks word deur afrigters daaraan gefoen nie. Seker maar oor die gym belangriker is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.