Dit gaan alles oor geld, ook by die All Blacks

Dis nie net in Suid-Afrika, Australië en Argentinië waar die bloeding oor die uittog van spelers na Europa nie gekeer kan word nie: Nieu-Seeland het dieselfde probleem.

Dit is die beleid van die Nieu-Seelandse keurders om net spelers vir die All Blacks te kies wat in Nieu-Seeland speel, maar dit verhinder steeds nie spelers om oorsee te gaan speel nie. Wat betaal die huispaaiement, wie betaal die water en ligte, wie vul die koskaste, wie onderhou hul gesinne?

Ja, in Suid-Afrika is daar boonop die bykomende probleem van transformasie, maar word dit nie in baie gevalle verkeerdelik as verskoning voorgehou nie?

Suid-Afrika probeer keer deur net spelers wat in die buiteland speel, vir die Springbokke  te oorweeg as hulle in 30 of meer toetse gespeel het: Australië se reël is nog strenger: 60 toetse. Geen Argentynse speler wat oorsee speel, word oorweeg nie.

Maar is dit ʼn geskikte teenvoeter? Nee!

Die All Blacks wat oorsee gaan, raak ook al hoe jonger en ʼn onlangse studie het juis getoon dat 29 van die 60 All Blacks wat sedert 2007 oorsee speel (gespeel het), jonger as 28 jaar was.

Die 26-jarige Lima Sopoaga van die Highlanders het nou ook die geldwortel gegryp wat na hom uitgehang is. Sopoaga, wat in 16 toetse vir die All Blacks gespeel het, sal aan die einde van die seisoen na Engeland skuif waar hy vir Wasps sal speel. Vergeet van die Wêreldbeker, vergeet van die All Black-trui, dit gaan alles oor geld.

Hy het as 19-jarige Superrugby in 2010 begin speel en in 2015 sy toetsbuiging vir die All Blacks in die toets teen die Springbokke in die FNB-stadion neffens Soweto gemaak. Dit was ʼn droombuiging en die All Blacks het met 27-20 gewen. Sopoaga is bo Beauden Barrett vir sy debuuttoets verkies en Barrett is eers in die tweede helfte as plaasvervanger-heelagter opgestuur.

Nou is die rolle omgeruil, want Barrett is in die beginspan en Sopoaga moes verlede jaar baklei vir ʼn plek op die plaasvervangersbank.

Met Sopoaga op pad oorsee, raak die losskakelspens in Nieu-Seeland maar bra leeg.

Dan Carter, Stephen Donald, Aaron Cruden, Luke McAllister en Colin Slade speel reeds (of binnekort) in Europa.

Ja, van hulle is lank in die tand en sal nie meer die All Black-span kan haal nie, maar wat van Cruden en Sopoaga?

Wat gebeur as Barrett sou seerkry?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Vandag rugby ‘n beroepsport geword het,kan ‘n mens spelers nie kwalik neem nie dat hul gaan vir die hoogste verdienste,want hul speeltydperk is kort en beserings kan dit nog korter maak.

Ruby gaan mi dieselfde paaidjie as sokker loop.

Nico K ·

Ek weet nie mooi wat bedoel Frans dat rugby dieselfde paadjie as sokker gaan loop nie. Die gaan goed in sokker en die sport is gewild. So ek reken Frans bedoel dit gaan goed gaan met rugby vorentoe.

Frans C ·

Beste Nico K

Dat jy nie verstaan nie is duidelik.Die Engelse sokkerliga is een van die sterkstes in die wêreld
want dit wemel van die oorseese spelers. Die Engelse sokkerspan is egter so swak dat hul laas
in 1966 die wêreldbeker kon wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.