Dit gaan taai wees om dié Leeus te stuit

Duhan van der Merwe druk een van sy drieë teen die Haaie. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Te midde van die onsekerheid wat Covid-19 teweegbring – die Springbokke se toets teen Georgië het onder meer in die slag gebly en ’n paar lede van hul eie trop het positief vir die virus getoets – was daar absoluut geen onsekerheid oor die Britse en Ierse Leeus se vertoning op die veld nie: Hulle is hier om rugbywedstryde te wen.

Warren Gatland se troepe het gister vir die tweede agtereenvolgende wedstryd meer as 50 punte teen ’n Suid-Afrikaanse span opgestapel toe hulle die Haaie met 54–7 ore aangesit het.

’n Mens kan nie eens met ’n geykte “haaitenk”-kwinkslag vorendag kom nie, want die wedstryd is in Johannesburg gespeel. Maar as daar iets is waaroor die Durbaniete vir ’n hele lang ruk nie eens sal glimlag nie, dan is dit ’n Van der Merwe-grappie.

Die Suid-Afrikaans gebore Duhan van der Merwe het gister die verdediging laat bontstaan en drie drieë gedruk om welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys te word. Soos wat daar tereg gesê is: Dié Leeu was die beste Suid-Afrikaner op die veld.

“Lekker” – dít was Van der Merwe se presiese opmerking toe hy agterna oor sy span se vertoning gepols is.

“Ons het ’n vreemde paar dae agter die blad, maar ons het vanaand met ’n spesiale vertoning vorendag gekom. Dit voel asof ons al maande lank saam as ’n span speel,” het Van der Merwe gesê.

Die span is net vóór afskoptyd nog verder ontwrig toe Covid-19-maatreëls beteken het dat verskeie sterre, onder wie Dan Biggar, Stuart Hogg en Gareth Davis, hulle aan die wedstryd moes onttrek.

Maar dit lyk inderdaad of die toergroep al baie meer as net drie wedstryde saamgespeel het. Hulle was uitstekend by die afbreekpunte en die tempo waarteen hulle rugby speel, maak dit ’n fees om die spel te volg.

As die toer nie deur Covid-19 ontspoor word nie, gaan die Leeus baie moeilik gestuit word.

  • Puntemakers:

Britse en Ierse Leeus: Drieë: Duhan van der Merwe (3), Josh Adams (3), Bundee Aki en Louis Rees-Zammit. Doelskoppe: Owen Farrell (3) en Finn Russell (4).

Haaie: Drie: James Venter. Doelskop: Curwin Bosch.

  • Die manne van Die Losgemaal het ook vóór die wedstryd met die Haai-legende Stefan Terblanche gesels.

Die kranige agterspeler het 19 drieë vir die Springbokke gedruk en is dus die perfekte kandidaat om oor Gatland se veuelkeuses te gesels.

Daarbenewens beteken sy magdom ervaring – hy het ook in 87 wedstryde vir die Ospreys uitgedraf en teen die Leeus-toerspan in 2009 kragte gemeet – dat ’n mens maar kan luister wanneer hy praat.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anthony ·

Dan kan ons bly wees dat Covid die Leeus gestuit het names ons, We dodged a bullet maybe.

tweeling ·

Johann, nêrens vermeld jy dat beide die SA leeus en die Haaie 2 erg verswakte spanne op die veld gehad het nie. Indien die Springbok spelers daar was sou dit heeltemal ‘n ander prentjie geskets het.

piet ·

Hoeveel spelers het die Golden Lions aan die Springbok-groep afgestaan? Sonder die Bokke is ons rugby substandaard. Geen diepte nie, dis kommerwekkend.

piet ·

Goeie genugtig maar ons plaaslike rugby is vrot. Neem die Bokke weg en die gehalte is beroerd. Maar ek se dit al vir ‘n lang tyd, die gehalte van ons plaaslike kompetisies is power. Geen diepte nie, swak.

Tubac ·

Geen argument hiermee nie. In diepte ondersoek na die stand van sake is broodnodig. Spelers wat kan en wil sit op die kantlyn en word koud langs die veld.

piet ·

Wat is die punt van hierdie toerwedstryde as die Bokke nie vir hul provinsies kan speel nie? 50-punters dien geen doel nie. Ons plaaslike spanne sonder die Bokke is te swak om teen hierdie ouens te speel, dis vernederend.

Tubac ·

Stem saam ,maar een of twee swaeltjies maak nie die somer nie. Ons is glad nie gereed om hulle te pak nie.

Niklaas ·

Ek weet daar is van die Natalse Springbokke afwesig gewees , maar ek het jare laas die Sharks so swak sien speel. Talle potensiële drië het verlore gegaan vir Natal weens vrot hanteer werk.

N ·

Klink seker eentonig, maar Duhan van der Merwe is presies wat gebeur as daar nie na spelers gekyk word nie. CJ Stander, Paul Willemse, Brad Barrit, ens ens is bewyse. Ons moes spelers soos hulle op gepas het. Spelers soos Tyrone Green moet in die bok groep wees. . Oor n paar jaar speel hy vir Engeland dan wonder ons hoekom. Spelers soos Jan Serfontein, Elrigh Louw, Evan Roos, Cornal Hendriks, Andre Esterhuizen, Dylan Richardson moet in die span wees omdat hulle op vorm is, nie ‘experienced’ spelers soos Jesse Kriel, Siya Kolisi, Elton Jantjes, Damian Willemse, Willie le roux nie. Daar is heelwat spelers (van alle kleure) wat op die oomblik beter is. Hoop hulle gee vir Joseph Dweba kans op haker. Hys n yster en ken Europese rugby. Net my opinie.

Josua ·

n Span wat meer as 3 fases afdwing op n slag in n wedstryd veral op die doellyn sonder punte in my oë is n swak afgerigte span ongeag hoe goed die verdedeging is daar is net teveel opsies wat gevolg kan word maar dit gaan beteken dat die spelers op hul voete moet dink en dit is hier waar die probleem lê, Jannie De beer het Engeland stukken geskepskop juis omdat die ouens om hom dit vir hom moontlik gemaak het en hoe goeuer ons weer terug kom na daardie rugby toe hoe gouer sal ons weer bree bors op die veld kan draf. Dankie vir Ackers en Swys wat dit op n tyd reggekry het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.