Dit help om die rieme in rugby dunner te sny

Dis ʼn balansstaat wat elke rugbyspelende land groen van jaloesie sal maak… al 14 provinsiale unies in Nieu-Seeland het verlede seisoen ʼn wins gemaak.

Die unies se gesamentlike wins was byna R34 miljoen, die meeste nog en het dubbel en dwars vergoed vir die verlies van byna R13,5 m wat die vorige jaar gely is.

Dit was toe ʼn groot skok en ʼn wekroep vir die Nieu-Seelanders, veral nadat die unies die vorige drie seisoene ook ʼn gesamentlike wins gemaak het.

Die gordels is ingetrek, die rieme is dunner gesny, daar is op onnodige uitgawes besnoei en nou kan hulle die vrugte daarvan pluk.

Inkomste het met meer as 10 persent tot R758 m gegroei en die wins gaan nou teruggeploeg word om rugby te bevorder, tot op voetsoolvlak.

Die vyf unies wat Superrugby-spanne het, Auckland, Waikato, Wellington, Canterbury en Otago, het vir meer as die helfte van die inkomste gesorg.

Nog belangriker, spelersgetalle het met meer as 4% (mans) gegroei en daar is 2 100 meer vroue-spelers.

Die gesonde balansstaat is te danke aan die verhoging van uitsaai-inkomste, wat daartoe gelei het dat die Nieu-Seelandse Rugbyunie sy aandeel aan die unies kon vergroot het.

Dink net aan volgende jaar se finansiële verslag, wanneer die winste van die uiters suksesvolle Britse en Ierse Leeus-toer in berekening gebring sal word.

Dis hoekom Suid-Afrikaners moet duim vashou dat die Pro14-reeks ʼn geldkoei en nie ʼn bykomende las sal wees nie, dat die Wêreldbekertoernooi vir 2023 in November aan Suid-Afrika toegeken sal word, en dat die Bokke aan die wenkant sal bly.

As dit nie gebeur nie, nou ja….

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wesley ·

Wel gedaan met hul goeie geld bestuur en sukses, maar hul moet ook dankie se vir SA se aanhou vasklou aan SANZAAAAR, want sonder ons, en net met hul maatjies anderkant die Tasmania See en 1 Japanese span wat glad nie die paal haal nie en Argentyne wat net in blou en wit strepe ordentelik wil speel, sal hul baie kort val….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.