Dit kan binnekort Noorder- én Suider-Bokke wees

Jurie Roux – twee Springbokspanne. (Foto: Twitter)

Jurie Roux, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het baie groot drome vir Suid-Afrikaanse rugby.

Jare gelede, toe Oregan Hoskins nog die president van Saru was, is daar al beplan om in een van die Noordelike Halfrond se reekse te speel, en dit later uit te brei, selfs na Amerika.

Dit het nou ‘n werklikheid geword, gebore uit noodweer, want die Cheethas en Southern Kings speel oor minder as drie weke in die Pro 14-reeks nadat hulle van hul Superrugbystatus gestroop is.

Daar heers groot opgewondenheid, maar ek is bevrees dat Suid-Afrikaanse ondersteuners dalk ontnugter kan word as hulle wonderwerke verwag.

Kom ons wees eerlik, die Cheetahs en Kings speel nie meer Superrugby nie omdat hulle nie die mas opgekom het nie, en finansieel gesukkel het.

Boonop het albei spanne ‘n hele paar staatmakers verloor en gaan dit ‘n baie groot aanpassing wees. Die Kings wil juis vyf of ses spelers by die Lions leen.

Engelse en Ierse winters, sagte en nat velde, koue en reën, klein stadions, en teenstanders wat in daardie toestande gedy. Boonop gaan daar van die spelers verwag word om vir minstens 16 maande sonder ‘n ruskans te speel voordat hulle eers aanstaande jaar in April/Mei ‘n blaaskans gaan kry.

Roux het die afgelope naweek in die The Telegraph (Londen) die pot se deksel gelig oor wat kan voorlê.

Volgens hom is dit glad nie onmoontlik nie om twee Springbok-spanne te kies, een vir die toetse in Junie en die Rugbykampioenskap, en een vir die toer aan die einde van die jaar.

Hy het gesê dat as daar nog twee Suid-Afrikaanse spanne in die Noordelike Halfrond speel, kan dit ‘n werklikheid kan word.

Beteken dit dan twee Springbokafigters, een vir die Suider-Bokke en een vir die Noorder-Bokke?

Soos sake nou staan, is daar net vier spelers van die Cheetahs in die Springbokgroep van 34 is en nie een speler van die Kings nie, hoe gaan dit moontlik wees?

Kom ons wees eerlik, die kans dat baie van die Suid-Afrikaners wat nou hul heil oorsee soek, gaan terugkeer, is baie skraal, want ons kan nie kers vashou met die euro en Japanse jen nie.

Waar gaan ons genoeg spelers van gehalte kry vir agt volhoubare franchises? Ons moes dan juis twee Superspanne sny.

Ja, vir die Noordelike Halfrond is dit soos manna uit die hemel om Suid-Afrikaanse spanne by hul kwynende reekse te betrek.

Maar ons moet pasop dat ons nie ons vingers by ons Sanzaar-vennote verbrand nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rugby-ondersteuner ·

“…Kings speel nie meer Superrugby nie omdat hulle nie die mas opgekom het nie…” Het die skrywer van die artikel ooit na die Super Rugby uitslae gekyk?

Veritas ·

Ons het tans nie eers genoeg spelers van internasionale gehalte, om een ordentlike Springbokspan vol te maak nie. Hierdie uittog wat Saru gereël het, gaan dinge net vererger. Ons moet onsself maar staal vir nog ‘n klompie teleurstellings.

Hendrik ·

Daar gaan van die spelers verwag word om 16 maande sonder n breek te speel! Hulle kry oor 9maande n breek in April , Mei? Wie doen die somme van julle?

Fires ·

SARU hardloop blind! Baie rigtingloos! Rugby is besig om dood te loop in SA?! Kyk na al die stadions wat leeg begin raak. Ek kyk deesdae ook eerder ander sport as rugby.

KIEWIET ·

Cheethas en Kings kom nie die mas op nie wat dan van die Bulle wat onder hulle ge eindig het Bulle word soos gewoonlik weer bevoordeel

wesley ·

Hul is maar stadig om in die noordelike waters te spring, en glo hierdie “groot toon natmaak” met die Pro14 is n goeie begin.

Ek is van opinie dat ons al lankal moes luister na Hoskins om noorde toe te kyk, en Aus en NZ agterlaat. Die spel gaan elk geval net oor geld, al is dit hoe verkeerd in my oe, maar ons moet na ons eie talent kyk en ophou al ons hoop in SANZAR sit. NZ en Aus het nie finansiele krag om hulself aan die gang te hou nie en SA en Super Rugby is hul koei wat net gemelk moet word, terwyl hul eintlik niks terug gee behalwe harde opponente nie (net NZ kom deesdae hul kant by). Sonder ons sal die magtige All Blacks maar swakker doen soos die jare verbygaan. Fekitoa en Fumiaina is bewyse die All Black trui is nie genoeg om jou terug te vir peanuts nie. Hou net ons spelers hier en ons sal n krag word waarmee niemand kan meeding nie.

Veritas ·

Wesley jy slaan die spyker op die kop. Hoé ons egter die topspelers hier gaan hou, is ‘n ander vraag. Geld is vandag ‘n belangrike faktor in enige beroep en weens die beperkte tyd, waarin ‘n speler op topvlak kan meeding, word hulle baie goed betaal. Ons kan hulle nie verkwalik as hulle, hul heil elders gaan soek nie. Vroeër jare was dit alle rugbyspelers se droom om Springbok te speel maar vandag wil dit lyk asof dit sekonder geraak het by meeste spelers. Soos die Bokke deesdae speel, kan mens dit verstaan. Of ons dit wil weet of nie, Springbok rugby se dae is getel. Ek hoop ek is verkeerd maar ek twyfel.

Anita ·

Fire Jurie. Hy het in elk geval n kla teen hom. Het hy ooit rugby gespeel. As ek na daai gesiggie kyk N EE.

Pieter Erasmus ·

Die Cheetahs se finansies iz beter ass die WP of die Bulls sin, kry julle feite reg…

DR ·

Cheetahs het niemand noemenswaardig verloor nie, of bygekry nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.