Dit kan in ʼn nagmerrie vir die Kings ontaard

ʼn Mens wonder of die Southern Kings reeds hul huiswerk gedoen het.

Oor ʼn raps meer as drie weke, om presies te wees op 2 September, speel die Kings in hul eerste wedstryd van die nuwe Pro14-reeks teen die Scarlets in Llanelli.

Het die Kings al  ʼn groep wat hul man kan staan? Wanneer word Deon Davids as hoofafrigter bevestig? En wat van ʼn paar oefenwedstryde, aangesien die Kings nie soos die Cheetahs in die Curriebekerreeks speel waar hul spelers wedstrydskerp gehou word nie?

Onthou, die Kings was laas op 14 Julie in aksie toe hulle hul Superrugbyverpligtinge teen die Cheetahs afgesluit het.

Is daar al geskikte plaasvervangers vir staatmakers soos Lionel Cronje, Makazole Mapimpi, Irné Herbst, Schalk van der Merwe, Wilhelm van de Sluys en Chris Cloete wat ander weivelde gaan soek het?

Tik my met ʼn veertjie om, maar om twee keer binne ʼn jaar wondere van ʼn span te verwag, is straks te veel gevra.

Jinne mense, die Scarlets is die huidige Pro12-kampioenspan. Hulle spog met vier Britse en Ierse Leeus in Leigh Halfpenny, Gareth en Jonathan Davies en Ken Owens.

Die groep is gelaai met Walliese (en ander) toetsspelers soos Tom Prydie, Scott Williams, Rhys Patchell, Samson Lee, Jake Ball, Emyr Phillipps, die oud-Bokstut Werner Kruger, die Skotse flank John Barclay en die Crusaders-vleuel Johnny McNicholl.

Hulle is boonop uitgerus en aan die begin van ’n nuwe seisoen, hulle brand om weer te speel.

Die week daarná speel die Kings teen Connacht, die 2015/’16-kampioen, en in hul derde wedstryd, maar darem tuis, teen Leinster, wat gelaai is met Ierse internasionale spelers.

Ja, die Pro14-reeks is ʼn reddingsboei vir die Kings nadat hulle uit die Superreeks gegooi is, maar dit kan baie maklik in ʼn nagmerrie verander.

Twee weke tuis in die somermaande en dan weer twee weke in die Noordelike Halfrond se winter. Sewe tot agt maande lank.

Dit gaan ʼn groot aanpassing wees, dit gaan vol slaggate wees, en dit gaan hul diepte toets.

Dit gaan die Kings, én die Cheetahs, veel meer as in die Superreeks beproef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.