Dit lyk soos die Cheetahs van ouds, maar …

Vergeet daarvan dat Zebre nie ʼn gerekende span in die Pro14 is nie. Daar is heelwat talent en vaardigheid, soos hulle Saterdagaand in Bloemfontein teen die Cheetahs gewys het.

Maar dit was nie genoeg nie. Meer as ʼn dosyn drieë in die wedstryd wat vir die Cheetahs ʼn bonuspunt besorg het, het gewys dat die manne van Francois Venter steeds tradisionele Vrystaatse hardlooprugby kan speel. Hulle het met 54-39 teen Zebre gewen.

Die verdediging van die twee spanne was sekerlik nie deurgaans heeltemal van prima-gehalte nie, en die tuisspan se hantering, veral in die eerste helfte, het hulle te dikwels in die steek gelaat om heeltemal tevrede te voel.

Maar as jy darem agt drieë gaan druk, soveel soos die All Blacks teen die Bokke, moes jy iets reg gedoen het.

Daardie iets was die goeie samespel wat die Cheetahs nog altyd op ʼn goeie dag teen enige span aanmekaar kan sit. Ook die terugveg nadat hulle na 17 minute met 0-11 agter was.

Makazole Mapimpi het soos dit ʼn gehalte-vleuel betaam op volle vaart fyn getrap langs die kantlyn vir sy eerste drie, goeie werk gedoen vir sy tweede en was speler van die wedstryd.

Maar die toekenning kon seker ook aan William Small-Smith gegaan het vir sy goeie aanvoeling en harde werk – en die drieë van Sergeal Petersen en Torsten van Jaarsveld se tweede wat hy aangevoer het.

Die Cheetahs se lynstane het nie altyd reg verloop nie, veral nie vroeg in die wedstryd nie; daar is darem ook te maklik kans aan Zebre gegee om punte te gaan aanteken.

Verdediging teen ʼn sterker span sal sekerlik lol.

Maak kritiek is maklik vir ʼn span wat na twee redelike stewige neerlae skielik begin tande en aanvalsvaardigheid wys het, al is dit teen baie middelmatige verdediging. En die nulletjie is, soos in krieket, gebreek. Nou kan dit net vorentoe.

♦  Voor ʼn mens heeltemal vergeet: na sy eerste ietwat powere poging, het die Cheetahs se derde losskakel in drie wedstryde, Ernst Stapelberg, in sy eerste wedstryd op hierdie vlak, sy volgende sewe skoppe almal oorgeskop.

Ook moet jy nie vergeet van die positiewe bydrae wat Zebre op veral die aanval tot die wedstryd gelewer het nie, hoewel verdediging by hulle ook nie ʼn sterk punt was nie.

Dalk gaan die mense van Bloemfontein, wat Saterdagaand gratis toegang tot die wedstryd gehad het, tog sterk inkoop in hierdie Pro14-nuutjie van teen spanne van die Noorde te speel.

Puntemakers –

Cheetahs (19) 54 : Drieë: Makazole Mapimpi 2, William Small-Smith, Luther Obi, Torsten van Jaarsveld 2, Tian Meyer, Sergeal Petersen. Doelskoppe: Ernst Stapelberg 7
Zebre (18) 39: Drieë: George Biagi, Johan Meyer, Mattia Bellini, Faialaga Afamasaga, Giulio Bisegni. Doelskoppe: Carlo Canna, Marcello Violi 2, Guglielmo Palazzani. Strafdoele: Canna 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bollie ·

Zebre was altyd die swakste span in hulle kompetisie. Om 39 punte teen so ‘n span af te staan, wys vir jou waar die fout lê met Cheetah rugby….verdediging is opsioneel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.