Dit sal mos nie die Springbokbaadjie goedkoop maak nie

Vergeet van Sondag se halfeind-glips. Die Blitsbokke is Suid-Afrikaanse rugby se grootste bate.

Die Blitsbokke is die enigste nasionale span wat die Kaapstad-stadion twee agtereenvolgende dae kon vol pak en wat deur alle ondersteuners omarm word.

Maar kry hulle volle Springbokkleure? Nee, eers ná 35 toernooie.

Dis was ʼn groot skok toe Seabelo Senatla  verlede week vertel het hoe groot die eer is om voor sy tuisskare ná 35 toernooie met ʼn Springbokbaadjie vereer te word.

Al wat ʼn mens kan aflei is dat dit die Springbokbaadjie met die goue omboorsel is, dié ene wat iemand soos Lukhanyo Am vir net drie minute se speeltyd in die onlangse toets teen Wallis gekry het.

Senatla is die sesde huidige Blitsbok wat dit kon regkry. Die ander is Chris Dry, Kyle Brown, Philip Snyman, Branco du Preez en Cecil Afrika.

Dit neem jare om hierby uit te kom, want in die huidige 2017/’18-sesioen is daar net tien toernooie.

Senatla het in Saterdag se kragmeting met Frankryk sy 200ste drie vir die Blitsbokke gedruk en verby 1 000 punte geskuif. Hy is slegs die vyfde speler ter wêreld wat 200 of meer drieë kon druk.

Hy het dit in sy 35ste toernooi en in sy 175ste wedstryd reggekry, 16 toernooie minder as Dan Norton van Engeland.

Ja, ʼn mens het volle begrip daarvoor dat Springbokkleure nie goedkoop gemaak moet word en nie links en regs uitgedeel moet word nie. Maar hoeveel Blitsbokke sal  Springbokke in 15-manrugby word?

Dalk Senatla, dalk Kwagga Smith en ʼn groot dalk, Werner Kok.

Sewesrugby is soos T20-krieket en verskil hemelsbreed van toetskrieket.

Kom ons blaaie deur die argiewe: Jamba Ulengo, Norman Jordaan, Warren Brits, Pierre Uys, Adri Badenhorst, Pieter Dixon, Gus Theron, Carel van der Merwe en lang lys ander spelers wat Bokke geword het.

Dis nie hulle skuld nie, hulle het nie hulself gekies nie, maar kan die Blitsbokke nie vroeër erkenning kry nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.