Dit was erger as om jou suster te soen

Sean O’Brien, klipharde flank van die Britse en Ierse Leeus, word deur Ngani Laumape en Kieran Read gekonfronteer. (Foto: Twitter@lionsofficial)

Jerome Poite … ongewild in Suid-Afrika, nou ook vyand nommer een in Nieu-Seeland.

Ai, ʼn mens wonder hoe lank spanne oor van die Franse skeidsregters gaan kla en of Wêreldrugby iets daaraan gaan doen.

Ja, dalk was die meeste van sy beslissings in die derde en beslissende toets tussen die All Blacks en die Britse en Ierse Leeus in die kol, maar waaroor hy onthou sal word, is die drama in die 78ste minuut toe hy sy beslissing verander het. Was hy reg of was hy verkeerd?

Suur druiwe? Beslis nie, maar die gesigte van die spelers het die verhaal vertel toe Poite die eindfluitjie geblaas het met die eindtelling gelykop: Nieu-Seeland 15, Britse en Ierse Leeus 15.

Al is die reeks die eerste keer ooit gedeel, het baie min geglimlag en het hulle maar bra bek-af hande geskud.

Wanneer spanne gelykop speel, word daar gesê dis soos om jou suster te soen. Saterdag was dit veel erger.

Waar die vreugdevure vir een van die spanne hoog moes brand, was dit ʼn teleurstelling. Die skare was tjoepstil, want dis nie wat hulle wou gehad het nie.

Die drama het die 78ste minuut gebeur nadat die Leeus-senter, Owen Farrell in die 77ste minuut die toets met 15-elk gelyk laat trek het met ʼn strafdoel van byna 50 meter.

Van die afskop af het een van die Leeus die bal aangeslaan en toe dit vorentoe spat, het die plaasvervanger-haker, Ken Owens, dit vanuit ʼn onkantposisie gespeel.

Strafskop aan die All Blacks, het Poite beslis. Heeltemal reg, het almal gedink.

Die Leeus was platgeslaan en het dadelik gepleit dat die beslissing na die televisie-skeidsregter, George Ayoub, verwys moet word. Nadat Poite en Jaco Peyper die voorval ʼn paar keer op die groot skerm gevolg het, het die Fransman sy beslissing verander deur ʼn skrum aan die All Blacks toe te ken. Volgens hom was Owens nie doelbewus onkant nie.

“Jerome, Jerome, nee! Dit is nie die reël nie,” het die All Blacks se kaptein, Kieran Read, gepleit.

Daar kan net een vraag gevra word. As die oortreding in die eerste minuut gebeur het, sou hy steeds sy beslissing verander het?

Wat ons wys geword het uit die toets, is dat die All Blacks kwesbaar is. Ja, hulle het twee drieë teenoor die Leeus se geen gedruk, maar as jy hulle onder druk kan plaas, kan jy hulle klop.

En die Leeus? Waar hulle van die begin van die toer af deurgeloop het, het hulle in ʼn formidabele eenheid ontwikkel.

Hul verdediging was rotsvas – die All Blacks kon in drie toetse net vyf drieë druk, die Leeus vier. Hulle het ook een of twee skitter-drieë gedruk en getoon dat daar nie meer ʼn gaping tussen die Noordelike en Suidelike Halfrond is nie.

Puntemakers –
Nieu-Seeland (12) 15: Drieë: Jordie Barrett, Ngani Laumape. Doelskop: Beauden Barrett. Strafdoel: Beauden Barret.
Britse en Ierse Leeus (6) 15: Strafdoele: Owen Farrell 4, Elliot Daly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jan ·

En weer ‘n keer sal net die skeidsregter onthou word vir die toets.

Tc ·

Ag Shame,All Blacks………..die wiel draai sê hulle.
Net soos Bryce Lawrence(NZ Ref) ons geboor het in die RWC toets teen Aus…….Kry vir julle!

Tewie Wessels ·

REËL 11 nr.6 (a)
Wanneer ‘n speler in n Onkant-posisie nie kan verhoed dat die bal of speler wat die bal dra hom raak nie.Die Span mag ook nie Voordeel kry nie.Perongeluk of toevallig onkant.Spel gaan voort of Skrum en die opponente gooi in?

Frans C ·

Die reël (wet) is slegs van toepassing as ‘n speler ‘n bal uitgee na ‘n speler voor hom en die speler (ontvanger) geag word om onopsetlik in onkant posisie te wees.Die vraag wat beantwoord moet word is, hoe het hy in die posisie beland ,was hy maar nie net ‘n draler nie,want hoekom gooi hy sy hande in die lug?

Ek het eerder die idee gekry dat die skeidsregter nie die gramskap van 20000 Britse ondersteuners op die hals wou haal nie en verlig was dat die wedstryd en reeks toe gelykop eindig.

vrikie ·

Die feit dat die speler die bal gevang het bewys dat hy nie per ongeluk onkant was nie maar van voorneme was om die bal te speel

Frans C ·

Wat moet ‘n mens nou uit die wedstryd wys word.Die room van die vier Britse unies was nie goed genoeg om die All Blacks te klop nie.Dink so daar aan as ‘n span van die 4 voorste
Suidelike halfrond nasies so’n toer onder neem na ‘n paar oefen wedstryde, sou die ses-nasiekampioen dit in ‘n reeks van drie klop?

Die All Blacks sonder sommige van hul voorste spelers bly nogtans ‘n gedugte span en op die stadium betwyfel ek of enige ander Suidelike halfrondspan hul sal klop in die komende reeks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.