Dit was naelbytstories, maar dinge is Roos-kleurig in Stormersland

Evan Roos het ’n baie belangrike drie vir die Stormers gedruk. (Foto: Hansie Linde)

Stormers-ondersteuners weet seker al teen hierdie tyd om hulself vir ʼn naelbyt affêre te staal wanneer Ulster ʼn draai kom maak.

Die Belfast-vyftiental lyk altyd beter as baie van die ander Europese besoekers op die DHL-stadion. En Saterdagaand was weer eens nie ʼn uitsondering nie.

Die tuisspan het uiteindelik ʼn spannende tweestryd met 13 – 7 beklink nadat sy spelers genadiglik in die laaste 40 minute hul voete gevind het.

Want in die eerste helfte het Ulster aansienlik beter op die rugbyveld gelyk en die Stormers het gesukkel om die pyp aan te steek, newwermaaind te rook.

Swak hanteerwerk het tot die algehele frustrasie bygedra, terwyl die Kapenaars ook gesukkel het om saam op die aanval te werk.

Vreemd as ʼn mens in ag neem dat hulle skaars ʼn week vantevore vir Edinburgh van sy voete gehardloop het.

As die eerste helfte kortliks opgesom kan word: Die Stormers was gelukkig om ʼn agterstand van net 7 – 0 te trotseer; Ulster se voorsprong kon maklik veel groter gewees het.

Tog weet die tuisspan teen dié tyd hoe om Verenigde Rugbykampioenskap-druk te hanteer. Hulle het immers in die eerste seisoen die silwerware omhoog gehou, terwyl hulle verlede jaar weer in die eindstryd gespeel het.

Dinge het skielik ná rustyd so ʼn bietjie in plek geval.

Ja, daar was nog aanslane en ander ongedwonge foute, maar van die opportunistiese balrondslingersessies het gewillige hande gevind en die Stormers het aan die Ulster-damwal begin hamer.

Om dan nie eens van plaasvervangerhaker JJ Kotze se ongelooflike skop te praat nie.

Evan Roos se drie en Manie Libbok se skopvoet – sy radar was ook beter in die tweede helfte ingestel – het uiteindelik die kragmeting vir die tuisspan beklink.

Kon dinge anders uitgedraai het?

Sekerlik.

Vertel die hernieude aanslag in die tweede helfte ʼn mens iets van die Stormers se karakter?

Beslis.

Manie Libbok in aksie. (Foto: Hansie Linde)

  • Puntemakers:

Stormers: Drie: Evan Roos. Doelskop: Manie Libbok. Strafskoppe: Libbok (2).

Ulster: Drie: Nick Timoney. Doelskop: John Cooney.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 54 punte
  2. Glasgow Warriors: 49 punte
  3. Bulls: 45 punte
  4. Munster: 43 punte
  5. Stormers: 39 punte
  6. Benetton: 37 punte
  7. Ospreys: 35 punte
  8. Ulster: 35 punte
  9. Edinburgh: 34 punte
  10. Connacht: 34 punte
  11. Lions: 34 punte
  12. Cardiff: 24 punte
  13. Sharks: 18 punte
  14. Scarlets: 16 punte
  15. Dragons: 15 punte
  16. Zebre: 15 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Was gelukkig om te wen. Het heelwat beter verwag teen ‘n middelmatige span soos Ulster, nogal op die tuisveld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.