Dít was mos Bokrugby met ʼn plan en struktuur

Courtnall Skosan is iewerste in die groep Bokke wat hom met sy eerste toetsdrie Saterdag gelukwens. (Foto Facebook Springboks)

Drukrugby. Ja, met hier en daar ʼn losserige stukkie spel tussenin, maar met doelgerigtheid en gehalte wanneer dit saak gemaak het.

Ja, dit was Springbokrugby. Nie foutloos nie, maar goeie Springbokrugby, wat met ʼn plan en struktuur gespeel is.

Hoe goed die oorwinning van 37-15 teen Argentinië Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion was, sal wel eers werklik teen die All Blacks – en moenie die Wallabies weggooi nie – beoordeel kan word.

Daar moet ook nie aanvaar word dat die wedstryd aanstaande naweek in Salta in Argentinië maklik sal wees nie. Vra maar manne wat al daar klippe gekou het.

♦  Intussen was dit ongetwyfeld ʼn verdere voorwaartse stappie sedert hulle in Junie teen die Franse die eerste van daardie reeks se drie toetse gewen het.

♦  Uitstaanpunte: goeie skrumwerk teen ʼn land wat hulle op skrumwerk roem; Elton Jantjies se bestuur van die wedstryd; die lostrio wat kwaai gekritiseer is, maar as eenheid indruk gemaak het; en moenie die bereidwilligheid om te hardloop, weggooi nie.

Dit was ook baie opvallend dat die omkeerbesit van die Bokkie tot die minimum beperk is.

Daar was die twee fisieke slotte, Franco Mostert en Eben Etzebeth, wat saam met Malcolm Marx die Poemas heelwat hoofbrekens besorg het. Hulle het weinig goeie besit gekry, trouens net ʼn raps meer as 30% in die eerste helfte.

Die Bokke moes na die aanvanklike oorheersing darem gaan druk het. Die Franse skeidsregter Romain Poite het dit egter met een van sy vreemde beslissings verhoed, en die Argentyne het ʼn swakgeplaaste grondskoppie van Jan Serfontein 70 m verder afgerond vir die wedstryd se eerste drie.

Maar dit moes kom en die Lions-kombinasie van Jantjies en Courtnall Skosan het met ʼn binnetoe-aangee vir ʼn eerste drie gesorg. Aan die ander kant het Raymond Rhule soos Skosan ook sy eerste toetsdrie gedruk en albei het goed op die aanval gelyk.

Ons sal moet wag om hulle keerwerk onder druk en in die oopte te sien….

♦  Kritiek? Nog te veel skuins hardloop van tyd tot tyd; min afwisseling in die patroon, of dit nou van die losskrum na die voorspelers was en of wanneer die agterlyn gevoer is.

Dit sou egter onvanpas wees om in ʼn nabetragting daarop te fokus. Die afrigtingspan sal dit kan reg skaaf.

Puntemakers –

Suid-Afrika (13) 37: Drieë: Courtnall Skosan, Raymond Rhule, Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit. Doelskoppe: Elton Jantjies 3. Strafdoele: Jantjies

Argentinië (5) 15: Drieë: Martin Landajo, Emiliano Boffelli. Doelskop: Juan Martin Hernandez. Strafdoel: Nicolás Sánchez

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre carlile ·

Bekkomerd kyk cravenweek sa skole span verkeerd gekies vermoedelik kwota syssteem Ek sal skaam wees om tespee,l as ek nie volgens verdienste gekies word.
Kyk maar Ruan combrinck wereld gehalte vluel. Kom rugby spelers staan op teen kwota systeem of het jul nie guts nie. selfs
Die supersport manne wat tebang is om hulle opinie telug shame dalk bang hul verloor hul job,miskien kan hul niks anders doen nie verstaanbaar.
D

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.