Dit was Plan B vir die Crusaders

Die Crusaders, bekend vir hul avontuurlike spelpatroon, het Saterdagoggend die doelpale in Christchurch verskuif toe hulle tot die halfeindronde van die Superreeks deurgedring het nadat hulle die Highlanders met 17 – 0 geklop het.

Die Crusaders was rustyd met dieselfde telling voor en die wedstryd was toe reeds in die sakkie: gebiedsvoordeel van byna 80% en 72%-besit.

Dit het die afgelope drie dae onophoudelik in die Nieu-Seelandse Suid-eiland gereën. Die veld, ondanks uitstekende dreinering, was steeds deurdrenk terwyl dit die hele tyd hard gereën en die wind gewaai het. Die veld was papnat en swaar; die spanne kon nie ordentlik skrum nie en die bal seepglad en uiters moeilik om te hanteer.

Wat doen jy? Plan B.

Die Crusaders het pragtig by die toestande aangepas met kort berekende aangeë tussen voorspelers wat oorheers en die bal nie deur meer as twee fases geneem het voordat dit weer vasgemaak word nie.

Die skrumskakel Bryn Hall se opdrag was om die bal voor die voorspelers te hou en vir die Stormers of die Chiefs, wat aanstaande Saterdag in die halfeindronde teen die Crusaders in Christchurch speel, sou dit ʼn baie goeie les gewees het.

Geen tierlantyntjies nie, maar rugby vir die fynproewer en dis hoekom die Crusaders in 16 uitspeelwedstryde tuis onoorwonne is.

Sam Whitelock, Scott Barrett, Jordan Taufua en Kieran Read was manjifiek, asook die hele voorry en die plaasvervangersbank.

Die Highlanders, wat weens die gure weer eers sowat sewe uur voor die afskop in Christchurch aangekom het, het soms probeer om met min besit die bal te rek om sodoende die Crusaders se verdediging te deurpriem.

Dit het nie geslaag nie, en nou is hulle seisoen ook daarmee heen.

Puntemakers

Crusaders (17) 17: Drieë: Joe Moody, Codie Taylor. Doelskoppe: Richie Mo’unga 2. Strafdoel: Mo’unga.
Highlanders 0.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.