Dit was tandekners by Nasiesbeker in Soeva

Soso Matiasvili – al sy span se punte. (Foto: Twitter)

Dit was tandekners Saterdag by Wêreldrugby (WR) se toernooi om die Stille Oseaan-Nasiesbeker in Soeva, Fidji.

Die tuisspan en verdedigende kampioen moes spook dat hy die kromme note haal om Samoa – wat nog nie eens ʼn plek in aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi kon kry nie – met 24-22 te klop.

Die Fidjiane was gerieflik met 24-3 voor, toe die Samoane hulle met ʼn kragtige terugvegpoging en drie drieë goed skrikgemaak het.

Die wenspan se dissipline was swak en hy het drie geel kaarte op die lyf geloop.

Georgië moes eweneens diep delf om Tonga met ʼn naelskraapse 16-15 in die ander wedstryd te klop.

Die Lelos se heelagter, Soso Matiasvilli, het al sy span se punte met ʼn drie, ʼn doelskop en drie strafdoele behaal.

♦ Nóg een van WR se Nasiesbekertoernooie word in Montevideo, Uruguay, beslis.

WSR

♦ In Perth, Australië, het die Western Force sy eerste nederlaag in Andrew Forrest se Wêreldrugbyreeks (WSR) gelei toe die Rebels hom in gietende reën met 28-12 verslaan het.

Met die Force se vorige afrigter, die Suid-Afrikaner Dave Wessels aan die Rebels-stuur, en verskeie gewese Force-spelers in die span, het hulle, luidens berigte, die tuisspan in ʼn toiingrige wedstryd heeltemal oorskadu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.