Dit wás toe soos om jou suster te soen

Rugbylegende, Frik du Preez. Foto: Eunice Stoltz

Wanneer ʼn rugbywedstryd gelykop eindig, kan jy maar seker daarvan wees dat van die koerante of webwerwe se opskrifte gaan lui: Dis soos om jou suster te soen.

Dis een van daardie geykte uitdrukkings wat glo die eerste keer in 1892 gebruik is toe iemand ʼn brief van sy geliefde gekry het.

Jare later is daar gesê dis soos om tee in plaas van koffie te drink en ook om na ʼn radiodiens in te luister in plaas daarvan om in die kerk te wees.

In die veertiger- en vytigerjare het Amerikaanse voetbalafrigters dit gereeld gebruik wanneer hul spanne gelykop gespeel het.

Die oud-Springbokkaptein Morné du Plessis het dit ook by geleentheid gebruik, só ook die oud-Bok-afrigter Kitch Christie toe Transvaal destyds gelykop gespeel het.

En wat het gebeur toe Noord-Transvaal en Transvaal in 1971 in die Curriebeker-eindstryd met 14-14 op Ellispark gelykop gespeel het?

“Dis soos om jou suster te soen” was van die opskrifte.

Noord-Transvaal was die gunsteling, die span was gelaai met ervare spelers, met Springbokke wat in 1969-’70 deur Brittanje getoer het, in 1970 die All Blacks opgefoeter het en in 1971 deur Australië getoer het.

Hulle was boonop die jaar onoorwonne terwyl Transvaal eers in ʼn halfeindstryd vir Natal moes klop om tot die eindstryd deur te dring.

Dit was ook die afskeid van die legendariese Frik du Preez, oor wie die gordyn ná die eindstryd toegetrek is.

Du Preez het flank gespeel met Piet du Plessis en Johan Spies die slotpaar.

Daar word nou nog oor die eindtelling gestry en geredekawel: In Pretoria word daar steeds geglo dat die Transvaalse skeidsregter Gert Bezuidenhout te veel tyd in beseringstyd toegelaat het nadat Chris Luther die Ligbloues met ʼn strafdoel met 14-9 laat voorloop het.

Maar Transvaal het ʼn losbal bemeester, die skrumskakel Gert Schutte het gebreek, Simon Norwood en Piet Greyling het gehanteer voordat die stut Sakkie Sauerman gaan druk het.

Gaan kyk maar na die video op You Tube, dit het beslis gelyk asof die bal in die laaste aangee vorentoe gespat het.

Die Transvaalse langbeen-heelagter Jannie van Deventer het met die doelskop geslaag om die eindtelling op 14-14 te staan te bring.

Maar nou ja, dit was soos om jou suster te soen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.