Dit werk (nog) nie om in Noord én Suid rugby te speel

Dit gaan baie meer as net ʼn kopskuif verg om terselfdertyd in die Suidelike en Noordelike Halfrond rugby te speel.

Dís die les wat daar reeds in die eerste ronde van vanjaar se Pro14-reeks geleer is toe die Cheetahs Saterdag in Limerick met 38-0 deur Munster geslag is en die Southern Kings Vrydagaand in Parma met 32-16 deur Zebre geklop is.

Dit terwyl daar plaaslik  in ʼn afgewaterde Curriebekerreeks gespartel word.

♦ Daar was verlede jaar versagtende omstandighede toe die Cheetahs en Kings aan die diep kant ingegooi is nadat hul Superstatus onder hulle uitgepluk is.

Hulle het ʼn nuwe terrein in Europa betree en was glad nie op die toestande, velde, reisreëlings  en stadiger spelpatroon van hul teenstanders voorberei nie.

Die Cheetahs het nogtans skaflik gevaar, ʼn paar teenstanders omgedop en in die kwarteindronde van die reeks gespeel.

Maar Saterdag het dit nie gelyk of enige lesse geleer is nie. Ja, verskeie van verlede jaar se spelers speel nou vir Europese klubs, in Japan of vir ander bonde.

Dit het ook gelyk of Munster reeds ʼn teenvoeter vir die Cheetahs se spelpatroon uitgewerk het, want hulle is meestal agter die voordeellyn gestuit, het min ondernemingsgees getoon en baie basiese foute begaan.

Oor die Kings se vertoning teen Zebre, verlede jaar se tweede swakste span, sê ʼn mens liewers niks nie. Maar as jy nie genoeg talentvolle spelers het nie, as jou dissipline nie vir 80 minute kan hou nie, gaan jy nog baie slae kry.

Aan die ander kant, as jou junior spanne nie hul verpligtinge kan nakom nie en as daar nie eens genoeg spelers was om behoorlik voor te berei nie, kan jy mos nie verwag om te wen nie?

♦ Wat van die Curriebekerreeks?

Die Westelike Provinsie (is John Dobson nie die antwoord om Robbie Fleck as Superrugby-afrigter te vervang nie?) gee die toon. Hulle het twee oortuigende oorwinnings behaal oor die Vrystaat (met ʼn rits Cheetahs voor hulle oorsee is in gietende Nuwelandse reën) en Vrydagaand met 57-28 oor die Pumas in ʼn droë Mbombela-stadion in Nelspruit.

Die Streeptruie het reeds 89 punte aangeteken en net 28 punte afgestaan. Hulle voer die basiese vaardighede reg uit en het spelbrekers om af te rond.

Die Goue Leeus, wat die Blou Bulle op Loftus Versfeld met 38-35 geklop het en die Sharks, wat die Vrystaat (sonder die Cheetahs) slegs met  33-29 in Bloemfontein kon troef, veg saam met die Pumas om die ander drie plekke.

Die Curriebekerreeks is byna by die halfpadmerk en die gehalte gee ʼn mens sooibrand.

Ja, niemand betwis dit dat die jong spelers nie hul bes lewer nie, maar ai, die hanteerwerk, besluitneming en verdediging wek kommer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henk ·

Daar is min foute onder die Cheetahspelers behalwe dat hulle, soos die bokke, met n losskakel probleem sit. Dan natuurlik moet mens nie daarby verby kyk dat n tekort aan afrigting die Cheetahs se grootste “spanner” in die wiel is nie. n Span wat van eerstens net sy nr 1 stut gebruik maak en dan in die volgende fase weer van voorspelers gebruik maak om die bal van die skrumskakel te ontvang is n duidelike aanduiding daarvan dat die afrigter geen idee het van wat hy met n gevaarlike agterlyn kan doen nie alternatiewelik weet hy sy lisskakwl beteken nie veel nie.

Callie ·

Duidelik soos Naas dit op Toks en Tjops gese het. Hoe beland n speler op daai vlak as hy nie eers die basiese dinge soos n bal vang en uitgee kan doen nie. Van ons weet en die ander ontken

Frans C ·

Spanne word oor seisoene gebou.Tans word ‘n klomp belowende spelers bymekaar gebring
en gehoop dat talent die deurslag sal gee,Alle goeie spanne wat ek al in my lewe sien speel het,het oor ‘n kern beskik wat as ‘n fondament gedien het en waarom die res van die span
gebou en beplan is.
Die gedurige rondvallery van spelers agter beter vooruitsigte en speelkanse is nie bevorderlik vir spanbou nie en as ‘n span gedurig verloor is die kanse groot dat belowende spelers ook deur oorseese klubs opgeraap gaan word,as hul daar speel.

Dit is eintlik mi om van naar te word as ‘n mens sien hoe die Cheetahs en Kings alhoemeer teen hul landgenote te staan kom.

Niklaas ·

Dit lyk asof trots die een groot verskil tussen NZ en SA rugby is. En ook in NZ , as jy vrot verdedig , word jy spoedig vervang. Daar is honderde plaasvervangers ook met ‘n hongerte om spanplek te kry. Ons sien nou telkens die trae pogings van SA spelers om te duik/verdedig. Dit kan man mos beseer. Skaafplekke kan opgedoen word. Ongelukkig word min wedstryde so gewen. En dis nie net die kwota spelers nie , hoor !

Ben ·

Niklaas – Jy is 100% reg – Die eerste mees belangrikste doel in rugby is om jou doelein te verdedig. Let op dat baie sogenaamde “Great Spelers” nie kan verdedig nie want hulle het die driee gedruk wat hulle maats vir hulle geskep het. Die media en publiek verafgod die driee drukkers. Rugby is ‘n “Span” Sport. DIe NZ spanne weet op wie hulle moet af hardloop. Die is hoekom Suid Afrika altyd die swak spannetjies wen maar nie NZ nie. Bang Spelers is die wat nie kan verdedig nie en hoort nie in ‘n Springbok span nie. Soos Niklaas se, skaaf plekke, jy kan mos seer kry. Ons het sonder mondstukke gespeel, sonder hierdie onder gepoffde klere ens….Ons het die volle wedstryd gespeel.

Paul ·

Dis ongelooflik wat julle as sportskrywers, elkeen van julle, doen om dit na die mense toe te bring, ons smag daarna, maar ongelukkig sit ons met ‘n dooie perd waarin die asem geblaas word.

Ben ·

Opgemerk – die meeste Suid Afrikaners se finasieele krag is besig om te kwein en as gevolg van die politiek het die skool kinders begin om ander sporte te speel bv hokkie. Met almal wat so teen ons in die wereld is, miskien is dit beter om soos in die Sanksie tydperk waar ons die All Black Kavaliers ‘n groot loesing gegee het, net weer te fokus op Currie Beker rugby waaraan AL ons spanne deelneem. Geen Springbok Pollitieke Vernederende tjol. Belaglike sokker reels (Geel/Rooi) Kaarte wat spelers verneder omdat hy in die hitte van die oomblik bietjie hoog gevat het, Kwotas, ens. Laat die SAUK toe om die rugby uit te saai sodat daar weer belangstelling kan kom. DSTV sluit meeste van die Afrikaners uit.

LHS ·

Hoe de duiwel moet die provinsies met sekerlik die minste kwaliteit spelers, twee spanne gelyktydig laat speel. Hulle kan nie eers een goeie span saamstel wat nog van twee. Vrystaat onttrek uit die pro 14 en speel net een span hier plaaslik.

Avokado ·

Ons rugby pluk nou die vrugte van onvoldoende en/of gebrekkige afrigting van skoolvlak af. Daar word te hard gekonsentreer om te wen en die seun word geen vaardighede geleer of ontwikkel nie. Spelers kom op natuurlike talent op boonste vlak uit maar hul talente word nie verder ontwikkel nie. So word spelers met potensiaal ook nie raakgesien nie en kry nie kans nie. Dan gaan speel hy eerder hokkie of krieket waar hy kans kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.