Dit werk (nog) nie om in Noord én Suid rugby te speel

Dit gaan baie meer as net ʼn kopskuif verg om terselfdertyd in die Suidelike en Noordelike Halfrond rugby te speel.

Dís die les wat daar reeds in die eerste ronde van vanjaar se Pro14-reeks geleer is toe die Cheetahs Saterdag in Limerick met 38-0 deur Munster geslag is en die Southern Kings Vrydagaand in Parma met 32-16 deur Zebre geklop is.

Dit terwyl daar plaaslik  in ʼn afgewaterde Curriebekerreeks gespartel word.

♦ Daar was verlede jaar versagtende omstandighede toe die Cheetahs en Kings aan die diep kant ingegooi is nadat hul Superstatus onder hulle uitgepluk is.

Hulle het ʼn nuwe terrein in Europa betree en was glad nie op die toestande, velde, reisreëlings  en stadiger spelpatroon van hul teenstanders voorberei nie.

Die Cheetahs het nogtans skaflik gevaar, ʼn paar teenstanders omgedop en in die kwarteindronde van die reeks gespeel.

Maar Saterdag het dit nie gelyk of enige lesse geleer is nie. Ja, verskeie van verlede jaar se spelers speel nou vir Europese klubs, in Japan of vir ander bonde.

Dit het ook gelyk of Munster reeds ʼn teenvoeter vir die Cheetahs se spelpatroon uitgewerk het, want hulle is meestal agter die voordeellyn gestuit, het min ondernemingsgees getoon en baie basiese foute begaan.

Oor die Kings se vertoning teen Zebre, verlede jaar se tweede swakste span, sê ʼn mens liewers niks nie. Maar as jy nie genoeg talentvolle spelers het nie, as jou dissipline nie vir 80 minute kan hou nie, gaan jy nog baie slae kry.

Aan die ander kant, as jou junior spanne nie hul verpligtinge kan nakom nie en as daar nie eens genoeg spelers was om behoorlik voor te berei nie, kan jy mos nie verwag om te wen nie?

♦ Wat van die Curriebekerreeks?

Die Westelike Provinsie (is John Dobson nie die antwoord om Robbie Fleck as Superrugby-afrigter te vervang nie?) gee die toon. Hulle het twee oortuigende oorwinnings behaal oor die Vrystaat (met ʼn rits Cheetahs voor hulle oorsee is in gietende Nuwelandse reën) en Vrydagaand met 57-28 oor die Pumas in ʼn droë Mbombela-stadion in Nelspruit.

Die Streeptruie het reeds 89 punte aangeteken en net 28 punte afgestaan. Hulle voer die basiese vaardighede reg uit en het spelbrekers om af te rond.

Die Goue Leeus, wat die Blou Bulle op Loftus Versfeld met 38-35 geklop het en die Sharks, wat die Vrystaat (sonder die Cheetahs) slegs met  33-29 in Bloemfontein kon troef, veg saam met die Pumas om die ander drie plekke.

Die Curriebekerreeks is byna by die halfpadmerk en die gehalte gee ʼn mens sooibrand.

Ja, niemand betwis dit dat die jong spelers nie hul bes lewer nie, maar ai, die hanteerwerk, besluitneming en verdediging wek kommer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Henk

Daar is min foute onder die Cheetahspelers behalwe dat hulle, soos die bokke, met n losskakel probleem sit. Dan natuurlik moet mens nie daarby verby kyk dat n tekort aan afrigting die Cheetahs se grootste “spanner” in die wiel is nie. n Span wat van eerstens net sy nr 1 stut gebruik maak en dan in die volgende fase weer van voorspelers gebruik maak om die bal van die skrumskakel te ontvang is n duidelike aanduiding daarvan dat die afrigter geen idee het van wat hy met n gevaarlike agterlyn kan doen nie alternatiewelik weet hy sy lisskakwl beteken nie… Lees meer »

Callie

Duidelik soos Naas dit op Toks en Tjops gese het. Hoe beland n speler op daai vlak as hy nie eers die basiese dinge soos n bal vang en uitgee kan doen nie. Van ons weet en die ander ontken

Frans C

Spanne word oor seisoene gebou.Tans word ‘n klomp belowende spelers bymekaar gebring en gehoop dat talent die deurslag sal gee,Alle goeie spanne wat ek al in my lewe sien speel het,het oor ‘n kern beskik wat as ‘n fondament gedien het en waarom die res van die span gebou en beplan is. Die gedurige rondvallery van spelers agter beter vooruitsigte en speelkanse is nie bevorderlik vir spanbou nie en as ‘n span gedurig verloor is die kanse groot dat belowende spelers ook deur oorseese klubs opgeraap gaan word,as hul daar speel. Dit is eintlik mi om van naar te word… Lees meer »

Niklaas

Dit lyk asof trots die een groot verskil tussen NZ en SA rugby is. En ook in NZ , as jy vrot verdedig , word jy spoedig vervang. Daar is honderde plaasvervangers ook met ‘n hongerte om spanplek te kry. Ons sien nou telkens die trae pogings van SA spelers om te duik/verdedig. Dit kan man mos beseer. Skaafplekke kan opgedoen word. Ongelukkig word min wedstryde so gewen. En dis nie net die kwota spelers nie , hoor !

Paul

Dis ongelooflik wat julle as sportskrywers, elkeen van julle, doen om dit na die mense toe te bring, ons smag daarna, maar ongelukkig sit ons met ‘n dooie perd waarin die asem geblaas word.