Div vergeet van die feite en Bok-tradisie

Peter-de-Villiers (Foto: web4)

Peter-de-Villiers (Foto: web4)

“Rugby is a game for barbarians played by gentlemen’, het die beroemde Ierse skrywer Oscar Wilde in die laat 1800’s geskryf. Die voormalige Springbokafrigter Peter de Villiers het egter hierdie tong-in-die-kies-stelling Dinsdag oneer aangedoen.

De Villiers het tydens sy vier jaar as Bokafrigter menige ondeurdagte stellings gemaak, van hulle snaaks, ander nie.

Daardie gesegdes en uitsprake was egter nouliks op dieselfde vlak is as die manier waarop hy sy opvolger as Springbokafrigter, Heyneke Meyer, die afgelope week gestriem het, en dit laat `n wrang smaak.

Kyk, niemand hoef van Meyer te hou nie. Baie verskil van hom, baie glo hy weet nie wat hy doen nie, ander weer wys op sy huidige rekord en ook wat hy in die verlede vermag het.

Hy is, soos enige Bokafrigter voor hom en ook wis en seker in die toekoms, omstrede en nie by almal gewild nie.

Dis aanvaarbaar, en hy (Meyer) verstaan dit.

Maar persoonlike aanvalle, soos deur De Villiers Dinsdag en verlede week, is onaanvaarbaar.

Kyk na die volgende (en ek haal in Engels aan sodat die volle ongeskiktheid daarvan nie in die vertaling verlore gaan nie):

I believe the Boks’ problems started in the build-up to the Test, when Heyneke Meyer underestimated the intelligence of black people with a dishonest selection,” het de Villiers op die webtuiste TimesLIVE geskryf, en bygevoeg, “That decision took the country back to the late eighties, when blacks supported the opposing teams because of apartheid”.

Dít kom van die einste man wat glo in 2010 na Pretoria gevlieg en Meyer gevra om hom te kom help toe die Bokke gesukkel het. Rapport het die afgelope naweek berig hulle het van die versoek verneem. (Meyer het dit van die hand gewys.)

Dit is veral interessant dat De Villiers onder meer ook kla dat daar te min swart spelers in die span van Meyer is (insluitende ook alle spelers van kleur volgens Saru se definisie van “swart spelers”).

Kyk `n mens `n bietjie verder, het Meyer in die afgelope vier toetse elke keer ses spelers van kleur in sy groep van 23 gehad het – meer as Div in enige wedstryd in die vorige Wêreldbekertoernooi. Meyer het vyf spelers van kleur in Saterdag se wen-opdrafspan teen die Poemas gehad.

(Trouens, De Villiers het net sewe spelers van kleur vir die 2011-toernooi gekies. Zane Kirchner, wat toe nie gespeel het nie, is reg teen die einde ook as plaasvervanger laat haal.)

Juan de Jongh het in die toernooi net twee keer van die bank af opgekom en `n skamele bydrae van onderskeidelik 17 en 9 minute in die vyf wedstryde gemaak. Chiliboy Ralepelle was net een keer, 29 minute lank, op die veld.

Was hulle saam op die toernooi in Nieu-Seeland as De Villiers se blote “kleurvertoon”?

♦ Terwyl `n mens De Villiers van party snaakse, heelwat ondeurdagte en dikwels kwetsende sêgoed kan vergewe omdat dit op die ingewing en sonder nadenke gesê is, het hy geen verskoning vir bogenoemde geskrewe aanhaling in sy rubriek nie.

En ook nie in sy rubriek Dinsdag dat Saru `n kontrak gesluit het met `n man wat, soos De Villiers skryf, “has taken our rugby into the gutters”.

Nouja, dit gaan op die oomblik nie buitengewoon goed met die Bokke nie. Tog is dit ook nie so sleg as `n mens dink dat Meyer nie soos De Villiers `n span vol Wêreldbekerkampioene geërf het nie.

Meyer het van sy 41 toetse 65,8% gewen, die derde beste nóg van enige afrigter wat meer as 14 toetse afgerig het. De Villiers het 62,5% van sy 48 gewen; Meyer se toetsspanne het gemiddeld 2,85 drieë per wedstryd gedruk en 1,56 afgestaan; De Villiers se syfers is 2,65 teen 1,81. Meyer se spanne het per wedstryd (`n raps) verder as De Villiers s’n gewen.

♦ De Villiers vra ook of die mense wat SA se rugby beheer werklik die kennis het om Suid-Afrika bo te hou. Nogal ironies, want die einste mense het duidelik teen hul eie logiese denke opgetree. Dit is erken toe daar by De Villiers se aanstelling as Bokafrigter deur die Saru-president, Oregan Hoskins, toegegee is sy aanstelling was op kleur gegrond, en nie op meriete nie.

`n Kwota-afrigter? Tog sekerlik nie …

Dit is geen geheim nie dat senior spelers soos John Smit, Victor Matfield en Fourie du Preez `n baie, baie sterk bydrae tot die afrigting van die span onder De Villiers gelewer het. `n Mens onthou ook die kwalik verbloemde kritiek van Jean de Villiers tydens `n media-onderhoud voor die 2010-toets teen Italië in Witbank oor die uitspraak van die afrigter De Villiers dat die Bokke onder hom voortaan net hardlooprugby sal speel.

(Terloops, De Villiers het in dié toets ses spelers van kleur in die beginspan en drie op die bank gekies. Die Bokke het 29-13 gewen. Later, teen die sterker spanne, was daar net drie spelers van kleur. Was die ses “kleurvertoon”?)

Maar dit is nie waaroor hierdie artikel/mening gaan nie. Bostaande is maar net `n uitwys van de Villiers se gerieflike amnesie oor die werklikheid.

Dit gaan éintlik daaroor dat De Villiers dié keer met sy gifpen, eerder as sy dwalende los tong, dinge in sy kritiek op `n voorganger-afrigter gesê het wat nog nie voorheen in Springbokrugby gebeur het nie.

Dit gaan ook daaroor dat hy met sy goedkoop en ondeurdagte kritiek die spel oneer aandoen wat, al meer as 100 jaar sedert Oscar Wilde se stelling, as `n sport vir jintelmanne beskou word, ongeag wat op die veld gebeur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris ·

Ja Pieter de Villiers, jy het lekker op die rug gery met die span wat Jake vir jou gebou het. So, jy kan maar stil bly………………..waar bly jy? jy bly stil !!!

Dr Pieter J Visser ·

Div, jy weet duidelik nie waarvan jy praat nie en om Meyer sleg te maak, maak jou geensins beter nie. Dit help absoluut niks om ‘n maatjie te soek waar jy reeds as onbekwaam geklassifiseer is. Jammer, maar jy staan alleen – seker een die swakste afrigters wat die Bokke nog gehad het en jou kommentaar nou bevestig ook jou lae Emotional Quotient.

Jannie Muller ·

Pieter-Son, Leon Schuster soek jou in sy movie in Japan. Los Suid Afrika met sy rugby en kry jou ry.

Eduard ·

Pieter daai tong van jou gaan jou in groot trubels laat kom as hy jou pla sny hom af bly net stil vir a slag .Het jy nie geleer nie a toe mond is a heel mond . kom nou ons is darem nog so bietjie lief v jou moet nou nie dat ons jou begin haat nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.