DJ Rassie maak indruk by Munster

Rassie Erasmus - maak indruk. (Foto: Munster Rugby)

Rassie Erasmus – maak indruk. (Foto: Munster Rugby)

Ek wonder of Rassie Erasmus sy nuwe Ierse provinsie, Munster, van sy dae as “DJ Rassie” sal vertel.

Erasmus en sy regterhand, Jacques Nienaber, het sedert 1 Julie toe hulle by Munster die leisels geneem het, ‘n baie goeie indruk by die spelers, beamptes en enigste twee oorblywende afrigters, Anthony Foley en Jerry Flannery, gemaak.

Erasmus-hulle trek soos `n vars briesie deur Munster, wat ses jaar laas ‘n trofee gewen het.  Hulle hoop om `n nuwe speelpatroon te vestig, want Munster het gestagneer, agter in die wedloop teen `n onbesonge span soos Connacht geraak, wat `n aanvallende patroon onder die oud-Samoaan Pat Lam omarm het. Die spelers het reeds ingekoop en daar baie van Munster verwag, wat in 1978 rugbyskiedenis gemaak het toe hulle die eerste Ierse span in 105 jaar geword het wat die All Blacks kon klop. Selfs die Ierse nasionale span kon in 28 toetse nog nooit die All Blacks klop nie.

Erasmus was jare gelede een van die mees innoverende afrigters in Suid-Afrika toe hy die Vrystaatse Cheetahs afgerig het.

Erasmus het in 2006 van kleurkaarte gebruik gemaak om sy besluite aan die spelers oor te dra, soos wanneer om pale toe te skop. Ek onthou `n kragmeting waar die skeidsregter `n strafskop aan die Cheetahs toegeken het en die spelers op Erasmus se kleurkaart gewag het.

Erasmus was besig om met Helgard Muller (spanbestuurder) te gesels en is effe onkant betrap. Hy het  oorhaastig die verkeerde kaart uitgepluk en in die lug geswaai. Dit was `n verkeerde besluit en die Cheetahs het verbrou.

Erasmus het later in die seisoen op die dak van die hoofpaviljoen stelling ingeneem, vanwaar hy `n baie beter uitsig as langs die veld gehad het. Hy het sy kleurkaarte opsy geskuif en van gekleurde liggies gebruik gemaak. Maar almal ken die ysige Vrystaatse winters, veral as die windjie ook nog waai.

In 2007 het die Vrystaatse Rubyunie besluit om `n hokkie bo-op die hoofpaviljoen vir Erasmus te bou vanwaar hy met sy kleurliggies kon dirigeer.

Dis Rassie se hokkie genoem en toe kry hy ook die bynaam DJ Rassie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.