Dobbel Crusaders soos die Lions met ʼn tuiseindstryd ?

Oorskat die Crusaders se afrigter Scott Robertson soos die Lions se Johan Ackermann verlede jaar sy span se eie diepte voor ʼn wedstryd wat hulle ʼn tuiseindstryd kan kos?

Toegegee, twee van die veranderinge is versterkings met slot Luke Romano en die oopkantflank Matt Todd wat na die span terugkeer.

Die tyd sal leer, maar dinge is vir die Crusaders, vanjaar se uitsoekspan, glad nie rooskleurig as hulle Saterdag 04:35 teen die Highlanders gaan staan en vasval nie.

Crusaders is tans net drie punte voor die Lions op die punteleer, en kan nog ingehaal word. Tog het Robertson tien veranderinge aan sy beginspan aangebring, en dit teen die Highlanders wat in die twee spanne se eerste kragmeting in die doodsnikke met net twee punte, 20-22, verloor het – en dit boonop op die Crusaders se tuisveld.

Verlede jaar was die Lions op pad na ʼn tuiseindstryd toe Ackermann ʼn hele klomp  van sy naasbestes na Buenos Aires gestuur het waar hulle met 22-34 teen die Jaguares vasgeval het.

Had hulle in hierdie wedstryd ʼn bonuspunt gekry, sou hulle saam met die Hurricanes 53 ligapunte maar ʼn beter punteverskil gehad het. Dus: die tuiseindwedstryd was die Lions s’n …

Die Crusaders, met 59 punte, moet benewens die Highlanders nog teen die grootste puntemakers en driedrukkers vanjaar, die Hurricanes, op dié se tuisveld in Wellington speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.