Dobela sleutelspeler teen Franse ná Willemse se besering

Die Shimlas se losskakel in die Varsitybeker en ook in Vrystaat Cheetahs se span, Lubabalo Dobela, sal Donderdag (21:00) in die laaste groepwedstryd van die o.20-Wêreldkampioenskap teen Frankryk ʼn sleutelspeler wees.

Die kniebesering wat die Junior Springbokke se losskakel Damian Willemse Sondag teen Ierland opgedoen het, is uiteraard ʼn slag vir die speler, die Junior Bokke en ook die Stormers wanneer die Superreeks oor die laaste naweek in Junie hervat word.

Daar word nietemin verwag dat sy plaasvervanger, Dobela, meer as sy man sal staan, veral gesien dat die jong Stormerlosskakel Sondag nie gelyk het na die Willemse wat ʼn mens deur die Superseisoen leer ken het nie.

Dobela se hooftake teen Frankryk sal wees om Donderdag sy gevaarlike agterlyn oordeelkundig en veral vinnig aan die hardloop te kry, en die bal voor sy sterk pak te hou.

♦ Die Junior Bokke se afrigter Chean Roux het benewens Dobela se insluiting ook nog vyf ander veranderinge aangebring vir die wedstryd teen die groot, aggressiewe Franse.

Die Blitsbok, Muller du Plessis, is weens ʼn beseerde boudspier nie beskikbaar nie. Wandisile Simelane, wat teen Ierland ʼn driekuns behaal het, skuif van senter af vleuel toe in Du Plessis se plek en word deur Manuel Rass vervang.

Schalk Erasmus vervang die beseerde Daniel Jooste op haker; die flank PJ Steenkamp is weer in die opdrafspan en Ruan Vermaak speel slot saam met die kaptein Salmaan Moerat.

♦ Roux meen sy span het mooi in die toernooi verbeter, maar voel dat hulle nog nie hulle potensiaal verwesenlik het nie ‒ en hierdie verdere stappie boontoe is Donderdag sommer baie nodig.

Die passievolle Franse span voor hul skare kan ʼn baie moeilike kalant wees in die wedstryd wat sal bepaal wie van die twee spanne outomaties na die halfeindronde deurdring.

Die Junior Bokke, met tien ligapunte ná twee wedstryde is voor in groep C nadat hulle Georgië en Ierland geklop het en in elke wedstryd ʼn drieëbonuspunt behaal het. Frankryk het teen dieselfde twee spanne gespeel en het nege ligapunte.

Die wenner tussen die Junior Bokke en Frankryk sal saam met die ander twee groepwenners in die halfeindronde speel. Die verloorder tussen die Juniors en die Franse mag dit straks ook nog as die kompetisie se beste tweede geplaaste span maak, maar dit is uiteraard ʼn onsekere waagstuk om dáárop staat te maak.

Junior Springboks –
15 Gianni Lombard, 14 Tyrone Green, 13 Manuel Rass, 12 Lyle Hendricks, 11 Wandisile Simelane, 10 Lubabalo Dobela, 9 Zak Burger, 8 Muller Uys, 7 PJ Steenkamp, 6 Dian Schoonees, 5 Ruan Vermaak, 4 Salmaan Moerat (kaptein), 3 Asenathi Ntlabakanye, 2 Schalk Erasmus, 1 Nathan McBeth. Bank: 16 Tiaan van der Merwe, 17 Alulutho Tshakweni, 18 Sazi Sandi, 19 Ruan Nortje, 20 Ben-Jason Dixon, 21 Rewan Kruger, 22 David Coetzer, 23 Sihle Njezula.

Afskop: 21:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.