Dobson se dilemma met vrygestelde Bokke

John Dobson (youtube.com)

Is dit werklik beter om ʼn keuse te hê wanneer jy ʼn span moet kies of nie?

Die maklike antwoord is natuurlik ja, maar hierdie keer het die Westelike Provinsie se afrigter, John Dobson, sekerlik effense vertwyfeling oor wat hom te doen staan.

Van die agt Springbokke wat vrygestel is om die naweek vir Curriebeker-diens oorweeg te word, is vier van die Westelike Provinsie, wat tans gelyk derde met die Sharks op die Curriebeker-punteleer is.

Albei spanne het egter nog drie wedstryde om te speel teenoor die voorste twee spanne, die Blou Bulle se een en die Leeus, wat nog twee wedstryde oor het.

Die vraag is of Dobson aan sy span, wat die Goue Leeus die afgelope naweek deeglik met 65-38 afgeransel het, moet verstel vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen Griekwas op Nuweland.

Dit mag wel sy span effens versterk, maar daar is twee dinge wat hom sal laat nadink: Of die Bokke dit nie as ʼn effense antiklimaks ná hulle toer sal beskou nie, al het net Bongi Mbonambi en Wilco Louw noemenswaardige speeltyd gekry; en of dit nie die dalk die wen-momentum van die huidige span sal verbreek nie.

Die WP speel aanstaande naweek teen die Sharks op Nuweland waar die wenner nader aan ʼn tuis-halfeind sal wees.

♦ Die WP se Bokke wat vrygestel is, is Mbonambi, Louw, Damien Willemse en Sikhumbuzo Notshe.

♦ Die Sharks se afrigter, Robert du Preez, het vir Thomas du Toit, wat hy vir die naweek se wedstryd teen die Lions op Kingspark kan oorweeg, en die Goue Leeus se Ross Cronje mag die naweek téén die Sharks uitdraf.

♦ Die Blou Bulle het ʼn vyftiental gekies met hul twee vrygestelde Bokke, Embrose Papier en Marco van Staden, wat in die span is wat in Windhoek teen Namibië speel.

Trevor Nyakane, Springbokstut van die Bulle wat aan albei kante kan sak, is ook weer fiks en in die Bulle se vyftiental, wat hoofsaaklik uit spelers bestaan wat op die randjie van die Curriebekerspan is en nou die geleentheid kry om weer hul slag op die speelveld te wys.

♦ Willie le Roux (Wasps) en Francois Louw (Bath) keer na hulle Premierliga-klubs terug. Dit is onseker of hulle weer in vanjaar se Rugbykampioenskap sal speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.