Dobson: Stormers moet ‘slim’ rugby speel

John Dobson – hoofafrigter van die Stormers. Foto: Thierry Zoccolan/AFP.

Die Stormers sal Saterdag op Loftus Versfeld poog om die Bulls vir die vyfde keer op ʼn streep in die Verenigde Rugbykampioenskap te troef.

En volgens John Dobson sal die Kapenaars intelligente rugby moet speel as hulle weer met die Pretorianers wil afreken.

“Ons is bekend daarvoor dat ons wedstryde teen ʼn vinnige tempo speel en nie bang is om die bal van die een kant van die veld na die ander kant te neem nie; hetsy deur fases op te bou of deur ’n teenaanval. Tog maak goeie spanne nie net op individuele briljantheid of ʼn tikkie geluk staat nie – hulle speel intelligente rugby teen ʼn hoë intensiteit,” het die Stormer-afrigter gesê.

Volgens Dobson moet al die Stormer-spelers goeie punte op hul wedstrydrapporte kry wanneer hulle die bal in die hand het, terwyl hulle ook soos tiere sal moet verdedig om die Bulls in toom te hou.

“Vir my persoonlik – en ek wil nie oneerbiedig jeens die ander Suid-Afrikaanse spanne klink nie – is daar nie veel dinge groter as om teen die Bulls op Loftus Versfeld kragte te meet nie. Boonop sal Jake White se terugkeer hulle ook bykomende woema gee.”

White het verlede maand ’n noodoperasie aan sy dunderm ondergaan en die komende derby sal sy eerste kragmeting terug in die tuig wees.

Oudergewoonte sal Loftus volgepak wees en Willem Strauss (president van die Blou Bulle Rugby-unie) het aan Maroela Media bevestig dat daar reeds 35 200 kaartjies verkoop is.

Die mikpunt van 40 000 toeskouers is iets wat Dobson verwelkom.

“Ek kry sommer hoendervleis as ek aan die toeskouers, die atmosfeer en die geleentheid dink. Ja, dit is net ’n groepwedstryd, maar elke keer wanneer jy op Loftus speel, moet jy dit benader asof dit ’n uitspeelwedstryd is. As jy nie geestelik sterk staan nie, gaan jy op die telbord gestraf word.”

Hy het egter beloof dat die Stormers hul bes sal doen om die wedstryd te wen.

“Ons spelers het respek vir die tradisies en wedywering van ’n Stormers‑Bulls-kragmeting en ons wil hulde aan die derby bring deur die wedstryd te wen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.