Dobson teleurgesteld ná Stormers struikel

Ruhan Nel druk sy tweede drie teen Munster. (Foto: Hansie Linde)

Munster het die Stormers ʼn gevoelige nekslag toegedien toe hy die Kapenaars met 26 – 24 op die DHL-stadion geklop het.

Dit was John Dobson en kie se eerste tuisnederlaag in maande en dit is dalk neusie verby met hul kans om tweede in die groepfase van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) te eindig.

Manie Libbok se selfvertrouevuur was ordentlik uitgedoof en die talentvolle losskakel het met ʼn nagmerrie vertoning agter die skopkelkie vorendag gekom – hy met vyf van sy sewe stelskoppogings skeefgekorrel.

Die Stormers het nietemin ʼn bonuspunt of twee verdien toe Ruhan Nel in die doodsnikke van die wedstryd sy tweede drie gedruk het.

ʼn Teleurgestelde Dobson het egter na afloop van die kragmeting gesê dat die moontlikheid van Kaapstad-halfeindstryd dalk nou in die slag gebly het.

“Ons wil bitter graag in ʼn halfeindstryd op ons tuisveld speel; dit is egter nou baie moeilik om ʼn silwer randjie om hierdie donker wolk te sien,” het Dobson gesê.

Frans Malherbe het ook ’n drie gedruk. (Foto: Hansie Linde)

Die wenlopie wat teen Munster tot ʼn einde gekom het, pla hom nie te veel nie: ʼn Span kan immers nie altyd wen nie.

“Ons wou vir Kaapstad ʼn rede gee om te glimlag deur vir so lank as moontlik op ons tuisveld te speel. Dit is werklik ʼn teleurstelling.”

Volgens Dobson het die spelers om een of ander onverklaarbare rede net die voet van die versnelpedaal gehaal.

“In die laaste tien minute vóór rustyd was hulle teen die planke, maar ons kon net nie die uitklophou in die wedstryd plant nie. Iets het beslis in ons spel ontbreek en ek kan nie mooi my vinger daarop plaas nie.”

  • Puntemakers:

Munster: Drieë: Diarmuid Barron (2), Shane Daly en Gavin Coombes. Doelskoppe: Jack Crowley (2) en Ben Healy.

Stormers: Drieë: Ruhan Nel (2), Frans Malherbe en Steven Kitshoff. Doelskoppe: Manie Libbok (2).

  • Topagtplekke op die VRK-punteleer:
  1. Leinster: 79 punte
  2. Ulster: 64 punte
  3. Stormers: 63 punte
  4. Glasgow Warriors: 58 punte
  5. Munster: 53 punte
  6. Connacht: 49 punte
  7. Bulls: 48 punte
  8. Sharks: 46 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Jy kan nie 13 punte, waarvan 8 punte absolute sitters was mis skop en dan huil wanneer jy met 2 punte verloor het nie.

Hayntjie ·

Miskien moet ʼn skopper gevind word wat meer suksesvol is. Ons het die mees eenvoudigste en maklikste punte verloor deur die skopper wat nie sy teiken bereik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.