Dobson vergelyk La Rochelle-tweestryd met toetsrugby

Ben Loader duik oor vir sy drie. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers het al vantevore vir La Rochelle op die DHL-stadion gewen; op 16 Desember 2023 om presies te wees en die eindtelling was 21–20 in die Kapenaars se guns.

Ben Loader en André-Hugo Venter het toe belangrike drieë gedruk, terwyl Manie Libbok se skopskoen ook ʼn deurslaggewende rol gespeel het.

Nou verwag John Dobson ʼn rateltaai tweestryd wanneer die spanne weer Saterdag in Kaapstad kragte meet.

“Dit kan met ʼn toets vergelyk word. La Rochelle is een van die topklubspanne ter wêreld; trouens, ek dink hulle is beter as van die toetsspanne. Hulle sal lag-lag onder Wêreldrugby se voorste tien spanne tel,” het die Stormers-afrigter gesê.

Die Kapenaars het verlede naweek maar gesukkel om die uitklophou teen Ulster te plant. Tog meen Dobson dat dit goed is vir sy span wanneer die spelers vir ʼn wenkans moet werk.

“Wat fisieke spel betref, was ons glad nie sleg teen Ulster nie. Ons het sterk verdedig, maar ons het telkemale ʼn hele paar belowende aanvalsgeleenthede deur ons vingers laat glip. Dit was beslis ʼn waardevolle les en ons sal daaruit moet leer.”

La Rochelle het in sy vorige kragmetings onder meer met die Sale Sharks (37–24) en die Leicester Tigers (45–12) afgereken.

Volgens Dobson sal die Kapenaars hul storie moet ken om die Fransmanne te stuit en dit is belangrik om die regte spelers vir die uitdaging te kies.

“Dit is nogal ʼn tameletjie om al die spelers in die wedstrydgroep in te pas. Kies jy ʼn fisieke span om La Rochelle in sy spore te stuit, of moet jy ʼn meer kreatiewe benadering volg om die wedstryd te wen, wat dan natuurlik ander spelers benodig?”

  • Kampioenebeker-bepalings:

Saterdag:

13:30: Bulls teen Lyon

16:00: Stormers teen La Rochelle

  • Europese Uitdaagbeker-bepalings:

Saterdag:
13:30: Clermont teen Cheetahs

18:30: Benetton teen Lions

Sondag:
16:00: Sharks teen Zebre

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sandra ·

Hulle sal dringend ‘n nuwe stelskopper in ribbok moet kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.