Dok Craven en die jaarvergaderings

Dok en sy hond Bliksem (Argieffoto)

Dit was kort, kragtig en saaklik. Die media was altyd welkom en wanneer daar oor iets gekibbel is, is dit met ʼn vinnige stemmery met die hand afgehandel.

Ek praat nou van die jaarvergaderings van die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyraad, met dr. Danie Craven as president aan die stuur van 1956 af tot sy laaste vergadering in 1992, kort voor sy dood op 4 Januarie 1993.

Dok Craven se regterhand was sy jarelange sekretaris, Alex Kellerman en later ook Arrie Oberholzer, oud-president van die destydse Stellalandse Rugbyunie.

Dok Craven het met die steun van die kleiner bonde seker gemaak dat al die besluite en voorstelle seepglad bespreek en afgehandel word en dat al die voorkeurkandidate hul poste behou het.

Die vergaderings is jarelank in ʼn hotel neffens Nuweland gehou en die afgevaardigdes het in lang rye tafels met naamplaatjies daarop in orde van belangrikheid en hoe oud die bond was, gesit.

Die agterhoede is gevorm  deur die skeidsregters, skole- en studenteverenigings en subunies.

Wat is bespreek? So elke tweede, derde jaar ʼn komende toer na Suid-Afrika. In Dok Craven se dae was daar net drie Britse Leeus-toere (in 1962, 1968 en 1974),  vier All Blacks-toere (1960, 1970, 1976 en 1992), die Wallabies (1961, 1963, 1969 en 1992), die Franse (1958, 1964, 1967, 1971, 1975 en 1980), Ierland (1961 en 1981), Wallis (1964) en Skotland (1960).

Ek onthou hoe bitter Dok Craven in 1986 was toe die Nieu-Seelandse Kavaliers deur die land getoer het. Hy is aanvanklik nie daarin geken nie, en die Bokke het ʼn borgskap van R75 000 ontvang om met ʼn klein Toyota-embleem op hul truie te speel (dis die begin van die einde, het Dok toe gesê). Daar was ʼn vertrouensbreuk in rugby.

Daar is op die vergaderings vinnig oor die Curriebekerreeks gesels, waar die eindstryd moes plaasvind en wat sal gebeur as Noord-Vrystaat, Natal of  Oos-Transvaal moes uitspeel.

Die Sport Pienaar- en ander kleiner reekse is blitsvinnig bespreek en afgehandel en elke jaar het Dok gekla omdat daar so min dekking aan die Visfabriek-toernooi gegee is.

Die Raad se geldsake is baie vinnig afgehandel – en kort na twaalfuur is daar verdaag, en het almal vir middagete aangesit.

Daar is selde ʼn verklaring uitgereik, want dit was mos nie nodig nie, die land se rugbyskrywers was mos almal daar, en die nuusagentskappe het die min nuus wêreldwyd ingestuur.

Dok het ná die tyd ook seker gemaak dat daar genoeg pitkos vir elke koerantman was. Jy kon hom op kantoor of tuis skakel,  behalwe tussen halfses en sesuur, wanneer hy en Tannie Merle (mevrou Craven) na die TV-reeks Loving gekyk het.

En nou?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Ons het iemand soos dok Craven nodig in die besstuur van SA rugby. Hy was n administrateur
wat ‘n passie! vir rugby gehadd het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.