Dok Craven en Maties se Slang

rugby

Argieffoto.

Hulle word soms die eenseisoen-wonders genoem, rugbyspelers wat in die kollig verskyn en dan weer van die toneel verdwyn.

Soms was dit oor beserings, soms was dit om hul studies voort te sit, soms was dit dat hulle saam met die Bokke op toer was, maar nie kans in toetse gekry het nie.

Van die spelers het jare lank hul bonde verteenwoordig, hulle was goed genoeg vir toetsrugby en het dit verdien om op toer te wees, maar ongelukkig nie die kans gekry om toetsrugby te speel nie.

Die bus was ongelukkig vol, soos hulle in Nieu-Seeland daarna verwys.

Die lys is ellelank en wie kan onder andere nog vir Bobby Johns, Giepie Wentzel, John Wessels, Faan Conradie, Louis Slabber, Bennie van Niekerk, Johan van der Schyff, Paul Durand, Brent Moyle, Botha Rossouw, Tim Cocks, Jeremy Thomson, Johnny Trytsman, Gus Theron en die sulkes onthou?

Hulle het almal Springbokkleure, maar het nooit toetsrugby gespeel nie.

Dan was daar die geval toe die Springbokafrigter Harry Viljoen onder andere vir Adri Badenhorst en Pieter Dixon in 2001 vir slegs een toerwedstryd in Engeland nadergetrek het. Hulle het skaars ʼn paar minute gespeel, maar gaan kyk maar na die lys van Springbokspelers, Badenhorst is no. 712 en Dixon no. 713. Beslis nie hulle skuld nie.

Dan was daar Springbokke soos Warren Britz, Colin Greenwood, Piet du Plessis, Norman Jordaan, Pierre Uys, Jamba Ulengo en ʼn hele rits ander wat in net een toets gespeel het.

Maar as daar ʼn geval van ʼn eenwedstryd-wonder was, was dit Maties se Slang Kritzinger in 1973.

Kritzinger, ʼn langbeen-vleuel wat slegs koshuisrugby gespeel het, is uit die bloute uit deur dr. Danie Craven nadergetrek vir die Intervarsity teen Tukkies.

Tuks was die groot gunsteling, die span het gewemel van Springbokke en Noord-Transvaalse spelers.

Tuks was boonop in 49 wedstryde onoorwonne en baie min kenners het Maties ʼn kans gegee.

Maar Kritzinger, wat die Dinsdag uit die bloute vir Maties gekies is, het die X-faktor gebring waaroor Dok Craven gedroom het. Hy het twee drieë gedruk en Maties het Tuks met 14-3 geskok.

En Slang Kritzinger? Hy het ʼn dokter geword.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae