Dok Craven se doepa en stories wat nuus haal

Naas Botha – ook hy is ‘gedrop’.
(Foto: Wim van der Berg)

Dis een van daardie stories wat altyd die nuus haal wanneer spelers uit ʼn rugbyspan gelaat word.

Nick Stiles, afrigter van die Reds se Superrugbyspan, het die skrumskakel Nic Frisby en die haker Andrew Ready uit die span gelaat vir Saterdag se kragmeting met die Brumbies in Canberra.

Is dit nou nuus? Eintlik nie.

Hulle speel nie goed nie en boonop het hulle ʼn bietjie drooggemaak, eintlik hul kele te veel natgemaak, terwyl die Reds verlede week ʼn loslootjie gehad het.

As Frisby en Ready se middelmatige vertonings my nie opgewonde maak nie, waarom is dié berig dan nuuswaardig? Dis omdat hul afrigter hulle gepos het en só gesê het. Hy het hulle aangeraai om te gaan klubrugby speel om só hul peil terug te kry en hul koppe weer skoon te kry.

Deesdae smokkel afrigters nie meer met spelers se koppe nie, want die kopdokters sê só gooi jy die baba saam met die badwater uit.

Jare gelede was dit die doepa wat Dok Danie Craven gebruik het om sy geliefde Maties en die Westelike Provinsie op die regte spoor te hou. Dok het vas aan sy skoktaktiek geglo, maar dit was in die amateur-era. Dit  was ook nie net tot klub- en provinsiale vlak beperk nie. Dok wou op ʼn kol ʼn “hele lot Springbokke drop” en op ʼn ander keer wou hy, en het hy, van die Springbokkeurders vervang.

Ek onthou nog hoe briesend Pretoria was toe Frik du Preez uit die Bokspan gelaat is en die jong André de Wet (Maties) in sy plek gekies is. Dit was tydens die reeks teen die Wallabies in 1969. In die Curriebeker-eindstryd wat ʼn paar weke daarna op Loftus gevolg het, het Du Preez teen die WP ʼn drie gedruk, ʼn lang strafdoel oorgeklits en ook ʼn lang straf-skepdoel deur die pale gejaag. Loftus se ondersteuners was op hul voete en Du Preez het nooit weer sy plek verloor nie.

Ek onthou ook die dag toe Naas Botha uit Noord-Transvaal se span gepos is. Voorbladnuus op Beeld, Hoofstad en die Vaderland.

Dit was net vir ʼn kort wyle en Botha is nooit weer weggelaat nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Frik en Naas was op hulle swakste steeds beter as die volgende beste. Hulle was deur ego’s en interne politiek weggelaat. Twee van die bestes wat die wêreld ooit sou sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.